‘Jansen van Vuuren het geweet wat hy doen’

Gerhard Jansen van Vuuren raadpleeg sy regsverteenwoordiger in die hooggeregshof in Johannesburg (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Gerhard Jansen van Vuuren was toerekeningsvatbaar toe hy sowat 11 jaar gelede sy gewese meisie, Andrea Venter (25), vermoor het.

Regter AJ Matjele het Woensdag in die hooggeregshof in Johannesburg dié bevinding – deur ’n paneel psigiaters wat Jansen van Vuuren in 2012 geestelik geëvalueer het – bekend gemaak.

Jansen van Vuuren het destyds net ná sy inhegtenisneming beweer dat hy nie by sy volle verstand was ten tyde van die moord nie omdat hy glo onder die invloed van steroïde was.

Jansen van Vuuren se regsverteenwoordiger, Innocent Mthembu, het Dinsdag by die aanvang van sy verhoor ’n aansoek ingedien om te vra dat Jansen van Vuuren weer deur ’n private psigiater geëvalueer moet word. Jansen van Vuuren is in 2012 reeds vir twee psigiatriese evaluasies gestuur.

Mthembu het in die hof aangevoer dat die psigiaters wat Jansen van Vuuren destyds geëvalueer het nie aan die Strafprosewet voldoen het nie. Volgens hom het die wet vereis dat sy kliënt deur drie psigiaters geëvalueer moes word. Die wet het in 2017 verander en vereis nou dat evaluasies deur slegs twee psigiaters voldoende is.

Adv. Makwena Mokwatedi, staatsaanklaer, het die aansoek as ’n onnodige vertraging van die saak beskryf en daarop klem gelê dat die saak reeds langer as tien jaar sloer.

Regter Matjele het Woensdag die verdediging se aansoek van die hand gewys. Volgens hom is die psigiaters se verslae wat in 2012 saamgestel is, voldoende, en dui daarop dat die hof met ’n nie-patologiese geval te doen het.

“Die psigiaters het bevind die beskuldigde is krimineel verantwoordelik vir sy dade. Die evaluasies is gedoen op grond van die hof se diskresie. Volgens die wet was die hof nie verplig om ’n derde evaluasie aan te vra indien hy met ’n persoon te doen het wat nie aan ’n geestesongesteldheid ly nie,” het Matjele gesê.

Volgens Matjele sou dit die saak net verder vertraag indien die verdediging se aansoek toegestaan word.

Matjele het ook daarop gedui dat die verdediging op 7 Mei 2021 tydens die voorverhoorverrigtinge aangedui het dat hy gereed is om voort te gaan met die verhoor.

Dries en Kobus Venter, Andrea se pa en broer, het Woensdag na die hofsaak ʼn sug van verligting geslaak.

“Die regter het die regte besluit geneem. Nou kan ons vorentoe kyk,” het hulle ná die hofverrigtinge aan Maroela Media gesê.

Jansen van Vuuren sal na verwagting weer Dinsdag in die beskuldigdebank staan.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Di ·

Ja so haal jou sondes jou wel in – geregtigheid sal seevier. Jy moes LANKAL al in die tronk gesit het

Mariaan ·

Ek het die saak in detail gevolg…die ou het presies geweet wat hy doen…BAIE hartseer gebring…hy moet maar boet!! Vir te lank weggekom

JohanR ·

11 jaar! Is dit ‘n rekord vir die hofe in die ANC se amper 28 jaar?

Hendrik ·

Hy het vir amper 10 jaar in Brasilie weggekruip. So in hierdie geval is dit nie die hof se skuld nie. Maar ja, daar is ander sake soos Zuma wat langer vat.

Androclus ·

‘Jansen van Vuuren het geweet wat hy doen’.DEFINITIEF nou wil hy kom mal speel.

Shakespeare ·

Geregtigheid sal seëvier. Net vir kaders. Nie vir blankes gereserveer nie. Viva ANC/EFF.

Maggies ·

Wat het “geregtigheid net vir kaders” hiermee uit te waai? Ek verstaan nie jou punt nie.

Frank John ·

Wat, jy gedink jy gaan weer jou sin kry. Toe jy klein was en ‘n drag slae moes kry elke keer as jy nie sin kry nie en jy lê en skop het op die vloer kon jy nog by jou ouers weg kom maar in werklike lewe werk dit nie so nie. Toe su nie vir jou jou sin gee nie toe moet sy met haar lewe daarvoor betaal. Jou beurt om jou lewe te gee vir jou gedrag.

Niklaas ·

Mag geregtigheid seëvier in hierdie geval. Die man moet lánk sit.

Natasha ·

Duidlik lees jy nie mooi nie. Hy het land uit gevlug en in Brazil weg gekruip. So nee nie Afrika tyd nie!

Natasha ·

Presies!! Hy het haar aangehou en gemartel, dis nie tydlik mal nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.