Jansen van Vuuren is toerekeningsvatbaar – psigiater

Gerhard Jansen van Vuuren (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Gerhard Jansen van Vuuren was toerekeningsvatbaar toe hy sy gewese meisie, Andrea Venter (25), op 2 Mei 2011 na bewering vermoor het.

Só het dr. Leon Fine, ’n psigiater wat die staat as getuie geroep het, Donderdag in die Palm Ridge-landdroshof in Johannesburg getuig. Hy het gesê hy stem nie saam met die scenario dat Jansen van Vuuren in ’n nie-patologiese dissosiatiewe staat verkeer het ten tyde van die moord nie.

Hy het ook die verdediging se argument dat Jansen van Vuuren aan ’n tydelike plofbare versteuring (Intermittent Explosive Disorder/IED) ten tyde van die moord gely het, verwerp.

Jansen van Vuuren se regspan het Maandag in die hof aangedui dat Jansen van Vuuren skuld ontken op grond van ’n diagnose van tydelike plofbare versteuring. Die diagnose is vroeër deur ’n private psigiater, dr. John Weinkove, gemaak.

Fine het aan die hof verduidelik dat IED ’n seldsame gedragsversteuring is wat gekenmerk word deur impulsiewe uitbarstings van geweld en erge woedebuie wat binne die situasie buite proporsie is.

Fine se getuienis is gegrond op sielkundige evaluasies wat destyds in 2012 – net ná die moord – deur ’n multidissiplinêre span in die Sterkfontein- psigiatriese hospitaal gemaak is. Die span het uit onder meer verpleegsters, psigiaters, sielkundiges en arbeidsterapeute bestaan. Fine was deel van die span.

Belanghebbendes soos familielede is ook ondervra, bloedtoetse is gedoen en die inhoud van die dossier is bestudeer.

Fine het ook sy bevindinge gegrond op die kringtelevisiebeeldmateriaal wat hy Woensdag onder oë gehad het.

Volgens die geestelike evaluasie- verslag en die videomateriaal is dit duidelik dat Jansen van Vuuren op ’n doelgerigte wyse ten tyde van die moord opgetree het en ook geen teken van emosie getoon het nie, het Fine getuig.

Andrea Venter (Foto: Investigative Psychology Unit, Facebook)

Jansen van Vuuren het na aanleiding van die video “in beheer van sy aksies gelyk”, aldus Fine. Hy het verwys na die gedeeltes in die video waar Jansen van Vuuren die oorledene (Venter) opgetel en haar liggaam geskuif het en ook daarna ’n swart gordel – wat soos ’n karategordel lyk – van haar nek verwyder het.

“Die feit dat hy ook op omstanders se vrae gereageer het en dat hy sy nekwond vasgehou het nadat hy homself met die mes gesny het, wys hy het rasioneel gedink en bewus was van wat aangaan.”

Fine het daarop gewys dat baie misdadigers soms selfmoord as ʼn uitweg sien ná die pleeg van ’n misdaad. “Selfmoord gaan in teen nie-patologiese gedrag.”

Volgens Fine het Jansen van Vuuren geen gedragsprobleme getoon terwyl hy in Sterkfontein opgeneem was nie. “Hy het normaal met ander pasiënte omgegaan en daar is geen gevalle van geweld aangemeld nie.”

Jansen van Vuuren se sielkundige evaluasies het volgens Fine nie aan IED se diagnostiese kriteria voldoen nie.

Hy het ook verwys na die beskermingsbevel wat Venter in 2008 teen Jansen van Vuuren gekry het omdat hy haar na bewering aangerand het.

“’n Sindroom van gesinsgeweld is ’n beter diagnose vir sy aggressiewe uitbarstings en nie IED nie.”

Volgens die evaluasies het Jansen van Vuuren as kind gesinsgeweld in sy huishouding ervaar. Fine sê soms kan daardie patroon van geweld in ’n kind se toekoms herhaal word.

Op adv. Francois Joubert, Jansen van Vuuren se regsverteenwoordiger, se vraag tydens kruisondervraging of die moord ’n produk van sy misbruik van steroïde kon wees, het Fine geantwoord: “Die gebruik van onwettige middels soos steroïde kan die beheer van woede- en aggressie-uitbarstings bemoeilik, maar die beskuldigde (Jansen van Vuuren) sou steeds tussen verkeerd en reg kon onderskei. Daarom kan die gebruik van steroïde nie as uitgemaakte faktor vir sy aksies aanvaar word nie.”

Volgens vorige getuienis het Jansen van Vuuren na bewering die oggend van die moord Venter met ’n mes agternagesit en haar keel oopgesny. Hy het daarna sy eie keel met die mes oopgesny.

Bewyse toon dat daar ’n moontlike struweling voor die moord in Venter en Jansen van Vuuren se onderskeie woonstelle was.

Die staat het Donderdag sy saak gesluit en die verdediging sal na verwagting môre (Vrydag) sy eerste getuie roep.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

Ek sou skat Delia dat self Jack the Ripper moes ‘n prokureur gehad. Kyk net hoeveel “low lifes” se geld hardloop Dali Mpofu agterna…..

T ·

Is tronkstraf genoeg vir iemand wat n ander persoon vermoor ? Bring die doodstraf terug?!

Swerwer ·

Ai my hart gaan uit na die ouers van Andrea. Dit is en bly vreeslik om ‘n kind se dood te verwerp en dan nog na die tyd al hierdie wreedheid waarmee en hoe sy om die lewe gebring is te moet aanhoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.