Jansen van Vuuren Maandag weer in hof

Gerhard Jansen van Vuuren in die hooggeregshof in Johannesburg. (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die langverwagte verhoor van Gerhard Jansen van Vuuren sal na verwagting Maandag in die Palm Ridge-landdroshof in Johannesburg begin.

Jansen van Vuuren staan tereg op aanklag van moord op sy gewese meisie, Andrea Venter (25).

Dié verhoor is verlede jaar reeds twee keer uitgestel en sou aanvanklik Januarie in die hooggeregshof in Johannesburg afgeskop het.

Tydens sy eerste hofverskyning op 18 Januarie het Jansen van Vuuren se regsverteenwoordiger, Innocent Mthembu, ’n aansoek ingedien om te vra dat Jansen van Vuuren deur ’n private psigiater geëvalueer moet word. Hy het aangevoer dat hy nie by sy volle verstand was toe hy Venter vermoor het nie, aangesien hy steroïede gebruik het.

Jansen van Vuuren is reeds in 2012 deur twee psigiaters geëvalueer. Mthembu sê art. 78 en 79 van die Strafproseswet het destyds egter geëis dat hy as moordverdagte deur drie psigiaters geëvalueer moes word, daarom dat hy nou nóg ’n evaluasie aanvra. Die wet het egter in 2017 verander en vereis nou dat evaluasies deur slegs twee psigiaters voldoende is.

Andrea Venter (Foto: Verskaf)

Regter Lincoln Matjele het egter ’n dag later dié aansoek van die hand gewys. Volgens hom is die psigiaters se verslae wat in 2012 saamgestel is, voldoende, en dui daarop dat die hof met ’n nie-patologiese geval te doen het.

Matjele het in die hof die psigiaters se verslae voorgelees wat daarop dui dat Jansen van Vuuren wel toerekeningsvatbaar was toe hy Venter vermoor het.

Jansen van Vuuren het ’n week later aangedui dat hy ’n private regsverteenwoordiger gaan aanstel. Sy nuwe verdedigingspan, Jaco Krüger en Francois Joubert, sal hom nou van Maandag af verteenwoordig.

Die saak sloer reeds langer as tien jaar en Matjele het gesê dit is in belang van geregtigheid om die saak so gou moontlik – sonder enige ontwrigtings – af te handel.

Intussen ly Venter se familie daaronder om elke keer hof toe te gaan om net weer te hoor die saak word uitgestel. Venter se pa, Dries, het in Februarie aan Maroela Media gesê die hofsaak krap weer ou wonde oop.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Christine ·

Ai, kan die hof asb die verskriklike hartseersaak eens en vir altyd afhandel en die moordenaar toesluit en die sleutel weggooi. Ek het Andrea se pa ontmoet en die hartseer wat daai oom deurgaan is hartverskeurend. Hy verdien ook nou die afhandeling van die saak.

Swerwer ·

As jy weet jy was nie by jou volle positiewe nie, skort daar dan mos absoluut niks met jou verstandelike vermoë nie. Dus moet hy maar sy straf dra, dit gee hom nie die reg om iemand se lewe te neem nie.

piet ·

Dit het niks met sy verstandelike vermoe (intelligensie) te doen nie.

Alma ·

Deesdae wil almal “mal” speel wat iemand vermoor. Hy was wreed, hoop hy sit baie lank! Hy kom al vir oor die tien jaar weg met dit, dis tyd dat hy sy straf kry!

Swerwer ·

Zuma stel mos die voorbeeld met sy kamtige siektetoestand.

Wondermaarnet ·

Kry dit agter die rug en sluit hom toe. Die arme familie het lank genoeg gely.

Annamarie ·

Waarom die howe ook alewig moet sake uitstel, gaan my verstand te bowe!! Onnodige rondslomp!! Of in gewone taal “hanna-hanna- pik-pik”

Niklaas ·

Hierdie skepsel hoort diep opgesluit te wees en sal hopelik nie te gou weer vry rondloop nie. Mag geregtigheid seëvier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.