Jansen van Vuuren se geestestoestand onder die loep

Gerhard Jansen van Vuuren in die Palm Ridge-landdroshof (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die staat het Vrydag in die Palm Ridge-landdroshof in Johannesburg ʼn kenner se diagnose van Gerhard Jansen van Vuuren, die man wat teregstaan vir moord op sy gewese meisie, Andrea Venter (25), betwis.

Tydens die staat se vurige kruisondervraging van dr. John Weinkove, ʼn psigiater, is sy sielkundige evaluasie van Jansen van Vuuren bevraagteken en het die staat aangevoer dat die diagnose nie aan die diagnostiese kriteria van tydelike plofbare versteuring (intermittent explosive disorder/IED) voldoen nie.

Die verdediging het Weinkove as deskundige getuie geroep nadat hy IED in Januarie by Jansen van Vuuren diagnoseer het. Op grond van dié diagnose ontken Jansen van Vuuren skuld vir die moord op Venter.

Volgens vorige getuies het Jansen van Vuuren na bewering op 2 Mei 2011 vir Venter by die Sibaya Sands-sekuriteitskompleks in Randburg, waar sy gewoon het, met ’n mes agternagesit en haar keel oopgesny. Hy het daarna sy eie keel met die mes oopgesny.

Bewyse toon dat daar ’n moontlike struweling voor die moord in Venter en Jansen van Vuuren se onderskeie woonstelle was. Venter is volgens die nadoodse ondersoek altesaam 12 keer met ’n mes in die bolyf gesteek.

Adv. Rolene Barnard, staatsaanklaer, het na aanleiding van verskeie akademiese studies en die getuienis van dr. Leon Fine, ’n psigiater wat die staat Donderdag as getuie geroep het, aangevoer dat Venter se moord eerder aan gesinsgeweld of “femicide” (vrouemoord) toegeskryf kan word.

Weinkove het in sy getuienis gesinsgeweld en IED probeer gelykstel, waarop Barnard gesê het dit is baie gevaarlik om só ʼn vergelyking te maak.

Weinkove het hierop geantwoord dat daar navorsing gedoen moet word om ’n verband tussen dié twee toestande aan te dui omdat dit ooreenkomste toon.

“Met IED kan maande se voortdurende gewelddadige gedrag voorkom voordat dit vir ’n ruk verdwyn en dan weer manifesteer. Tydens ’n ontploffingsepisode sny die denkende brein heeltemal uit en emosies neem oor in die vorm van ’n ‘woede-uitbarsting’. Dit is veral te sien in verhoudings waar emosies hoog loop, soos in dié geval.”

Barnard het weer uit navorsing aangevoer dat verhoudingsgeskille ook tot gesinsgeweld en uiteindelik vrouemoord lei. “ Gesinsgeweld is ’n globale pandemie waar 50% van alle vrouemoorde deur hul intieme maats gepleeg word,” het Barnard uit die navorsing aangehaal.

Barnard het deur die diagnostiese kriteria van IED gegaan en Weinkove gevra of hy tydens sy sielkundige evaluasie van Jansen van Vuuren kon vasstel of sy gedrag aan hierdie kriteria voldoen het. Na aanleiding van sy antwoorde het die staat beslis dat sy gedrag egter nie aan hierdie kriteria voldoen het nie.

Tydens die kruisondervraging het dit aan die lig gekom dat Weinkove slegs ’n uur met Jansen van Vuuren in konsultasie deurgebring het en sy diagnose van IED meestal gegrond het op navorsing wat hy oor die versteuring gedoen het en bewyse van hofdokumente.

Hy het Vrydag in die hof die nadoodse ondersoekverslag en Fine se verslag onder oë gehad.

Ten spyte van die staat se argumente het Weinkove voet by stuk gehou dat Jansen van Vuuren aan IED gely het ten tyde van die moord.

Weinkove het getuig om iemand 12 keer met ’n mes te steek moet ’n oomblik van “waansin en ontploffing” wees. “Dié aksie is irrasioneel en outomaties. Uit wat ek van die getuienis en bewyse kan uitmaak, het hy nie geweet wat hy doen nie.”

Andrea Venter (Foto: Verskaf)

Volgens Fine se getuienis was Jansen van Vuuren toerekeningsvatbaar ten tyde van die moord en het hy doelgerig opgetree. Dié getuienis is gegrond op sielkundige evaluasies wat in 2012 – ná die moord – deur ’n multidissiplinêre span in die Sterkfontein- psigiatriese hospitaal gemaak is.

Weinkove het getuig dat daar ’n noue verband tussen ’n persoon se kinderjare en die vorming van IED is, veral as ’n persoon erge trauma as kind ervaar het. “Op grond van Jansen van Vuuren se geskiedenis van huishoudelike geweld, kon dit beslis ’n invloed op sy breinontwikkeling hê en ’n stressor wees wat die sneller van dié versteuring was.”

Tydens kruisondervraging het Barnard egter Weinkove se argumente bevraagteken en hom gevra of hy enigsins ander toestande – soos geweld teenoor ʼn maat – nagevors het wat met IED oorvleuel. Weinkove het geantwoord dat hy nie die tipe geweld nagevors het nie en sy kennis oor IED verkry het deur daaroor op te lees en só sy bevindinge te maak.

Toe regter Ian Cox vir Weinkove vra of hy homself as ’n kenner rakende IED sien, het hy nee geantwoord. Uit die getuienis het dit duidelik geword dat hy in sy loopbaan nog nie iemand met dié versteuring diagnoseer het nie.

Barnard het Weinkove ook attent gemaak op die bewyse wat op die misdaadtoneel verkry is en die moord as vooraf beplan beskryf. Sy het onder meer verwys na die bloed wat in Jansen van Vuuren, sowel as Venter se woonstelle gekry is.

“Die staat voer aan dat die voorval in Jansen van Vuuren se woonstel begin het, waarna Jansen van Vuuren en Venter na haar woonstel gery het, waar die moord toe gepleeg is.”

Jansen van Vuuren gaan nie getuig nie en die verdediging het Vrydag sy saak afgesluit. Uitspraak sal na verwagting op 13 Junie gelewer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanEtz ·

Waarom die slagoffer saam met die moordenaar van sy woodstel na hare in een voertuig gery het, sal niemand ooit weet nie. Sy moes tog toe al bedreigd gevoel het??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.