Jantjies nou afrigter

Elton Jantjies destyds in ’n wedstryd teen Australië. (Argieffoto: Greg Wood/AFP)

Elton Jantjies, die stout seun van Suid-Afrikaanse rugby, het ʼn afrigterspos by Rugga School in Johannesburg aanvaar.

Dié losskakel sê in ʼn plasing op sosiale media hy is besig om sy “individuele dinge” agtermekaar te kry en noudat hy meer tyd beskikbaar het, wil hy dit graag gebruik om saam met Rugga School te werk.

Rugga School is ʼn rugbyakademie wat afrigting aan jong spelers gee. Hulle fokus onder meer op tegniek, vaardigheidsontwikkeling en sielkundige selfverbetering.

“Ek sien regtig uit daarna,” sê Jantjies in die plasing.

“Ek kan nie wag om my kennis en kundigheid te deel nie en saam met die kinders te werk nie.”

Hy verwys spesifiek ook na die sielkundige aspek van die spel en sê dit is vir hom ʼn belangrike kwessie.

“Hulle kan daarop bou; hoe om sekere dinge te hanteer – hoe om sukses en hindernisse te verwerk. Daar is baie om te deel.”

Jantjies, wat in 2019 ʼn lid van die seëvierende Springbokspan by die Wêreldbeker was, het in Junie verlede jaar positief vir die verbode middel Clenbuterol getoets. Dit is ʼn middel wat onder meer deur liggaamsbouers gebruik word om hul fiksheid- en staminavlakke ʼn hupstoot te gee.

Hiervoor is hy ʼn skorsing van vier jaar opgelê.

Dié no. 10-speler het in 2012 sy Springbok-buiging gemaak en het gereeld goeie vertonings vir die Lions in die Superrugby-toernooi gelewer. Hy het die Bokke in 46 toetse verteenwoordig en 335 punte aangeteken voordat sy internasionale loopbaan in omstredenheid gedompel is.

In 2022 is hy beskuldig van ʼn verhouding met ʼn dieetkundige van die Springbokke, en toe was daar die voorval aan boord van ʼn vliegtuig wat tot Jantjies se inhegtenisneming op die OR Tambo-lughawe gelei het.

Sy laaste wedstryd vir die Springbokke was op 27 Augustus 2022 teen die Wallabies in Adelaide.

Jantjies sluit by Rugga School aan as skop- en aanvalsafrigter.

“Dit is tyd om ʼn paar nuwe idees te ontsluit, asook elemente van waarheen die spel op pad is,” sê Jantjies.

“Ek sien regtig uit na die geleentheid en kan nie wag om my ondervinding en kennis met die kinders te deel nie. Hulle is ons volgende generasie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.