Janusz Walus-paroolaansoek aangehoor

Tydens 'n vroeëre betoging teen Janusz Walus se vrylating. Foto: ANA

Tydens ‘n vroeëre betoging teen Janusz Walus se vrylating. Foto: ANA

Janusz Walus, die man wat die SAKP-leier Chris Hani vermoor het, se aansoek om op parool vrygelaat te word, is Woensdag in die hooggereghof in Pretoria aangehoor.

Regter Nicolene Janse van Nieuwenhuizen het gesê sy het gehoop om vandag nog haar uitspraak te lewer, maar ná afloop van die argumente wat sy aangehoor het, wil sy graag behoorlik oor die uitspraak nadink. “My posisie is dat ek tans in die Palm Ridge-strafreghof sit. Ek sal ʼn uitspraak skryf wat aan een van my [kollegas] in Pretoria oorhandig sal word,” het sy gesê.

Voordat Janse van Nieuwenhuizen die hof verdaag het, het sy Gcina Malindi, SC vir die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP), aangesê om sy kliënt te vermaan. “As ʼn beampte van hierdie hof begryp jy die belang daarvan om die wet te respekteer as ʼn hoeksteen van enige opgevoede en demokratiese samelewing. Sal jy hierdie beginsels aan jou kliënte oordra?” het sy gesê voordat sy by die hof uitgestap het.

Die SAKP en Hani se weduwee, Limpho, het vroeër hul kritiek teenoor Janse van Nieuwenhuizen uitgespreek vir haar hantering van Walus se aansoek om parool. Walus het versoek om onmiddellik op parool vrygelaat te word, hangende die uitslag van die aansoek om appèl deur Michael Masutha, die minister van justisie.

Adv. Roelof du Plessis, Walus se regsverteenwoordiger, het gesê sy kliënt word “onherstelbare skade” aangedoen deur sy voortgesette aanhouding. “As dit ʼn jaar later aan die lig kom dat jy reg was en dat [Walus] veronderstel was om op parool vrygelaat te geword het, gaan hulle hom ʼn jaar van sy lewe teruggee? Hoe gaan hulle ʼn jaar by sy lewe voeg?” het Du Plessis gedurende die hofverrigtinge aan Janse van Nieuwenhuizen gevra.

Hy het gesê geen bedrag geld kan vergoed vir die “onherstelbare skade” wat aan sy kliënt gedoen is nie. “Die enigste rede waarom die minister [Masutha] hierdie aansoek voor die hoogste hof van appèl bring, is weens vooroordeel en politieke druk. Dit is ons siening dat politieke druk daartoe gelei het dat hy alles in hierdie saak teenstaan,” het Du Plessis gesê.

“Dit moet nie op die regte van [Walus] indring nie. Hulle neem sy reg om sy vonnis op parool uit te dien weg. Dit is die kern van hierdie saak. Parool is die voortsetting van ʼn vonnis, daarom sal daar geen vooroordeel wees as die applikant toegelaat word om sy vonnis op parool uit te dien nie.”

Die appèl is ingedien nadat Janse van Nieuwenhuizen verlede week Masutha se aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys het. Masutha het hom tot ʼn hoër hof gewend en daarom moet Walus intussen agter tralies bly.

Du Plessis het Woensdag gesê die appèlproses kan moontlik nog ʼn jaar neem waartydens sy kliënt in die tronk moet bly. “Hy is al reeds vir 23 jaar in die tronk,” het Du Plessis gesê.

Malindi het in sy teenargumente gesê dit sal nie regverdig wees om Walus met ander gevangenes te vergelyk nie aangesien Walus ʼn sluipmoord op ʼn prominente leier “op die vooraand van ons demokratiese bedeling” uitgevoer het.

Janse van Nieuwenhuizen het saamgestem dat Hani se moord ʼn burgeroorlog kon veroorsaak het.

Malindi het gesê die hof moet nie vir Walus vrylaat totdat die hoogste hof van appèl uitspraak gelewer het oor die saak nie.

Walus, ʼn Poolse immigrant, het Hani in April 1993 doodgeskiet. Hy is oorspronklik die doodstraf opgelê, maar dit is later na lewenslange tronkstraf omgeskakel nadat die doodstraf afgeskaf is. Clive Derby-Lewis, wat ook lewenslange tronkstraf uitgedien het vir sy aandeel in die moord op Hani, is verlede jaar ná herhaalde pogings op mediese parool vrygelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Loeis ·

As die hof ten gunste van Walus uitspraak gee, gaan die SAKP “Transform the courst!!!!!” skreeu.

Hulle verstaan nie hoe die regstelsel en oppergesag van die reg werk nie.

Flintstone ·

Maroela media,het julle nie ‘n foto van Janusz self nie?Waarom elke keer ‘n gesig en ‘n plakaat van een of ander onbekende niemand?Tydens ander artikels word relevante individue se fotos self vertoon,of is Janusz se gesondheid van so ‘n aard dat dit negatief op die regstelsel reflekteer?

wilmapo ·

Wanner die ander mense vra vir parool kry hulle daddelik hoekom eers nadink

Loeis ·

Om die redes wat Walus se advokaat gee, soos in die artikel beskryf.

Wat dit eintlik beteken is dat as die oppergesag van die reg val, ons almal baie groot moeilikheid het.

Edward James Shawe Snr ·

Gaan Chris Hanie se vrou ooit weet wat dit is om te vergewe? Nee want sy weet nie wat Demokrasie is nie. Walus verdien om vrygelaat te word. Hy het meer as sy straf uitgedien. Elkgeval as die SAKP moes aan bewind gekom het in die land dan sou daar nie demokrasie gewees het nie, nie dat dit eintlik met die ANC bestaan nie. Ons beleef daagliks die onderdrukking van kommunisme en diktatorskap in ons land. Ook moet ons baie versigtig wees indien die sogenaamde EFF aan bewind kom. In hierdie geval gaan sake erg skeef loop in ons geliefde Suid Afrika wat met bloed en sweet deur ons voorouers mak gemaak is.

Frederik ·

Die EFF aan bewind kom!!? Nie maklik nie. Die meeste swartes in SA is darem beter opgevoed as die EFF leierskap. Ek dink met die volgende algemene verkiesing – as daar een gaan wees – gaan die EFF dieselfde pad loop as Cope.

Loeis ·

Die ANC / SAKAP / COSATU alliansie is aan bewind – gaan vergewis jouself van die feite.

Wat die EFF aanbetref is die situasie moeiliker: as die ANC se steun sodanig val dat hulle in koalisie met iemand wil gaan, sal dit beteken dat ANC en die EFF moontlik daardie koalisie mag vorm, en saam ‘n tweederde meerdeheid het, wat beteken dat hulle die grondwet kan wysig, soos Julius wil he… Die perfekte ramp.

dikdaan ·

Elke moord op n boer is n sluipaanval wat enige oomblik n burgeroorlog kan begin. So, elke plaasmoordenaar wat op parool gaan se parool moet van nou af net so teengestaan word deur die geagte minister soos wat Walus sn teengestaan word of is hy dalk ni polities korrek vir parool nie? Dink net watse burgeroorlog sal uitbreek as die waarheid wel uitkom.

Peet J ·

Volgens my oordeel indien Hani nie rewolusionere uitsprake op die vooraand van die demokratiese bedeling (eintlik die oorgawe aan die ANC )ge-opper het nie sou hy heelwaarskynlik nie aangeval gewees het nie. Daar is geen twyfel daaraan nie dat die hele SA op daardie stadium op breekpunt gestaan het en onder die indruk verkeer het dat geweld enige oomblik kon uitgebreek het. Hani se moord het wel nie ‘n burgeroorlog op daardie stadium veroorsaak nie maar die teendeel is sou hy gelewe het kon ‘n burgeroorlog wel ontketen geword het op grond van sy uitsprake is dit nie genoeg rede om Walus wat streng gesproke ‘n oorlog voorkom het op parool vry te laat nie. Ek dink ‘n mens moet menslikheid ook in ag neem.

Lance ·

Ongeag al die weerstand …die wet bepaal dat die man op parool kan gaan ….geen lewe is meer of minder werd nie ….en hoe weet die mense hy het nie berou nie …almal skielik oornag sielkundiges geword …..self ondersoek en vergewensgesindheid moet dalk oorweeg word want dit gee bevryding . Ek het al die weduwee gesien praat op tv ….ek kan sien sy het nog n diep gesetelde wrok ….en met reg so …sy sal bevryding moet kry op n stadium waneer die tyd reg is …

Please ·

And what about mandala that planted boms in churge street in the 70 ties

Ben Prinsloo ·

Wie was bang vir die alliansie se oorlogspraatjies? Inteendeel wie is vandag nog bang? Het hierdie gepeupel die geskiedenis vergeet? Ek het nie.

Pieter le Roux ·

Die ANC het daai tyd geheul met die regses om Hani uit te haal. Vra maar vir die arresterende beamptes wat eerste vir Walus gevang het. Dit was nooit die KP se plan nie. Die ANC het Hani as ‘n bedreiging gesien.

Connie ·

Hulle is vrek bang vir Januzs. Hulle wil hom nie daar uit hê nie want hy is wit en het “guts”. Hulle eie mense het gesorg dat Hani uitgevat word.

Pieter ·

Miskien moet Regter Nicolene Janse van Nieuwenhuizen vir Mev Hani aanbeveel om die gedrukte media te lees, hopelik lees sy die berig raak waar 12-14 “Unrepentant” moordenaars, 2 boere in Vryheid vermoor het. Maar die lewe van n prominente politieke figuur, is mos meer werd, as net n gewone familieman en broodwinner se lewe.

Dirk Breytenbach ·

Hoe kan ons toelaat dat emosionele aansprake die gang van die wet bepaal. Toe Walus en kie. gevonnis is was daar ook ‘n geraas om hom behoorlik te straf, wat toe wel gebeur het want hy het die maksimum straf gekry en uitgedien. Dit is hier duidelik dat mense die reg en die interpretasie daarvan in eie hande neem soos en wanneer dit hulle pas. Hani se weduwee se verdriet en woede verdien empatie maar die wet het sy gang gegaan. Die betrokke minister verkwis belasting betalers se geld deur kat en muis te speel op tegniese punte en oorskry heel moontlik reeds mense se regte. Die wet maak ook nie voorsiening daarvoor dat die slagoffer van ‘n misdaad die oortreder gevange kan hou nie. Politieke geweld was nog nooit regverdigbaar nie maar as individue of groeperinge buite die juridiese stelsel die gang van die wet kan beinvloed (soos ook onlangs met Oscar Pretorius se vrylating op parool) dan is wette nie die papier werd waarop dit geskryf is nie. Janusz Walus het voldoen aan al die voorskrifte en as sy slagoffers glo dat die waarheid nie vaardig was nie, dan moet hulle bewyse bring of stilbly, wat anders? Die nuutste modus operandi is deesdae om iemand te vervolg en vonnis totdat die aanklaers tevrede is, dit laat mens ook wonder oor die effektiwiteit van wette. Is almal nie gelyk voor die wet nie en is almal nie geregtig om met waardigheid behandel te word nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.