Jarana het harde woorde vir die SAL ná bedanking

Vuyani Jarana. Foto: ANA.

Vuyani Jarana, die Suid-Afrikaanse Lugredery (SAL) se uitvoerende hoof, het bedank.

Jarana het in sy bedankingsbrief aan JB Magwaza, voorsitter van die SAL, harde woorde gehad omtrent die situasie by dié sukkelende staatsbeheerde instelling.

Jarana, wat in November 2017 as uitvoerende hoof by die lugdiens begin het, verduidelik in sy bedankingsbrief dat hy vir drie klousules in sy kontrak gevra het toe daar oor sy aanstelling onderhandel is.

Jarana het versoek dat die SAL onder beheer van die tesourie bly totdat dit ʼn punt bereik waar dit gelyk breek ongeag wie die minister van openbare werke en finansies is. Hy het ook versoek dat die raad nie onredelike sleutelbesluite rakende die implementering van die lugdiens se langtermyn-omkeerstrategie sal weerhou nie en dat die raad se samestelling nie met meer as 30% sou verander in die drie jaar van die implementering van die omkeerstrategie nie.

In die brief voer hy aan daar was sedert 2018 tot nou minstens drie gevalle waar die lugdiens amper nie salarisse kon betaal nie weens ʼn gebrek aan geld en dat hy meeste van sy tyd moes spandeer aan kwessies van likiditeit en solvensie.

“Die gebrek aan verbintenis om die SAL te befonds is besig om sistematies die implementering van die omkeerstrategie te ondermyn, wat dit al hoe moeiliker maak om te slaag,” voer Jarana aan.

Hy wys daarop dat die spoed van besluitneming ʼn groot rede tot kommer is aangesien dit onmoontlik is om die omkeerstrategie te bewerkstellig met die huidige vlakke van burokrasie om strategie te implementeer.

Volgens Jarana maak die werkwyses tussen die uitvoerende bestuur, die raad en die minister dit moeilik om met die nodige spoed en behendigheid te werk en word die lyne van aanspreeklikheid al hoe meer vaag.

Hy voer verder aan dat vertrouevlakke laag is en dat hy nie langer kan waarborg dat die omkeerstrategie bereikbaar is nie. “60% van die SAL se probleme in intern terwyl 40% markuitdagings is.”

Volgens Jarana sal hy drie maande kennis werk soos sy kontrak vereis en sal hy dus op 31 Augustus sy diens by die lugdiens beëindig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hans Richardt ·

Harde woorde wat nooit Harde tasbare werklikheid word nie…

Jan Salie ·

Ek vermoed die arme man moes die siek saak red ,maar die bestaande strukture, wat die gemors aangevang het, behou. Net om ten alle koste baantjies vir boeties te behou. Siek!

Siener van Melbourne ·

Daar’s hy. Volgende ou se beurt om te skep. Kom, kom maak gou die ry kaders is lank en almal wil n beurt hê.

Ja Nee ·

Al neem Bill Gates, Mark Zuckerberg en Jeff Bezos saam oor sal hulle niks aan die staatsverrotte (korrupte) olifant kan doen nie behalwe die doodskoot!

Foxi ·

Goeiste…….. gaan oor n paar weke oorsee, hoop daar is geld om die vliegtuie te diens.????????????

Jan Brand ·

Ek gaan een van die dae Amerika toe, maar sal ongelukkig nie vliegkaartjies van SAL koop nie, al wil ek hoe graag hê die redery moet op sy voete kom. Die risiko’s is vir my net te groot.

Johanna Botha ·

Een flop na die volgende en so word die belasting gemors. Maak die SAA TOE ! !

Johanna Botha ·

Prof van UJ het al soveel keer gese …sloop en verkoop ! Maar die klomp luister nie ????????????

Willie Maree ·

Jarana het baie goeie agtergrond, maar kaders in die politieke en burokratiese bestel maak dit onmoontlik om te presteer, dieselfde het by Eskom gebeur. As politici net hul hande van daaglikse bestuur wil afhou…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.