Jare later klink musiek weer helder

Ryan Williams en sy ma, Nicolette. (Foto: Verskaf deur Netcare)

Danksy ʼn kogleêre inplanting kan ʼn jong man met ʼn passie vir musiek vir die eerste keer in meer as 10 jaar weer behoorlik hoor. Hy is nou volstoom op pad om sy droom te bewaarheid om ʼn verkeersbeampte te word.

“Sedert die inplanting aangeskakel is, kan ek klank behoorlik hoor. Nuwe klanke wat ek nog nooit vantevore gehoor het nie,” het Ryan Williams (20) gesê, ʼn maand nadat die inplanting gratis deur mediese personeel verbonde aan die Netcare-stigting gedoen is.

Die prosedure is gedoen deur prof. James Loock, ʼn oor-neus-en-keelchirurg, in samewerking met die oudiologiespan van Tygerberg-hospitaal en die Universiteit Stellenbosch se kogleêre inplantingseenheid (THUSCIU).

“Dit kom voor of Ryan met normale gehoor gebore is, maar teen die ouderdom van drie progressiewe gehoorverlies beleef het. Teen die tyd dat hy agt jaar oud was, het sy gehoor aansienlik agteruitgegaan. Sy spraak -en taalontwikkeling is gevolglik vertraag,” het Loock verduidelik.

Williams is gediagnoseer met ʼn sindroom wat die kanale tussen sy binneoor en die binnekant van sy skedel vergroot. Dit het ʼn uitwerking op die binneoor en gevolglik ook die klankboodskap wat deur die brein ontvang word. Williams het vir vier jaar oor die weg gekom met gehoorapparate, wat hom darem in staat gestel het om onderrig te ontvang sonder om van gebaretaal gebruik te maak. Hy het ook swaar gesteun op liplees.

“Ons kon sien Ryan is ʼn blink, ambisieuse jong man met ʼn belowende toekoms en het geweet hy sou baie baat vind by ʼn kogleêre inplanting,” het Marge van Dyk, een van die oudioloë verbonde aan die Tygerberg-hospitaal, gesê. “Só ʼn gespesialiseerde prosedure verg egter baie hulpbronne en ʼn kogleêre inplantaat.”

Die span van THUSCIU, in samewerking met die niewinsgewende organisasie HearUs, was vasberade om ʼn oplossing vir Ryan te kry en het die Netcare-stigting om hulp genader.

“Omdat die Netcare-stigting jare lank al saam met prof. Loock en THUSCIU werk, het ons gesien watter lewensveranderende uitwerking kogleêre inplantings op ander jong mense gehad het,” het Mande Toubkin, Netcare se algemene bestuurder vir trauma, oorplanting en korporatiewe maatskaplike belegging, gesê.

Die Netcare-stigting is die maatskaplike been van Netcare, wat behoeftiges help om toegang te kry tot gehalte- en noodgesondheidsorg, asook gespesialiseerde chirurgie.

“Toe ons hoor van Ryan se situasie en watter verskil die inplanting in sy lewe kan maak, het ons gespring om die toestel te finansier en te help om Ryan se prosedure ʼn moontlikheid te maak,” het Toubkin gesê. Die operasie is by die Netcare N1 City-hospitaal in Kaapstad uitgevoer.

“Sedert my toestel aangeskakel is, gaan dit regtig baie goed. Ek is mal daaroor om na musiek te luister, al het ek vantevore baie gesukkel om te hoor. Nou kan ek vir die eerste keer die lirieke uitmaak en die verskillende vlakke van klank in die musiek hoor.”

Williams se ma, Nicolette, sê ook sy kan ʼn merkbare verskil in haar seun sien vandat die toestel aangeskakel is. “Hy het merkbaar gekalmeer en het soveel meer selfvertroue. My hart is vol van dankbaarheid teenoor elke liewe mens wat betrokke was en dit moontlik gemaak het vir Ryan om te kan hoor en sy droom te volg om ʼn verkeersbeampte te word.

Williams wil ook graag ander mense met gehoorverlies aanmoedig om nie moed op te gee nie. “Daar is klomp verskillende maniere om ʼn probleem op te los en as jy aanhou probeer en nie hoop verloor nie, kan jy dinge bereik wat jy nooit vantevore gedink het moontlik is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.