Jare se ‘hel’ ná pa, seuns in gru-ongeluk sterf

(Foto: Verskaf)

Meer as vier jaar ná ʼn grubotsing wat selfs reddingswerkers in trane gehad het, kan die familie van die oorledenes steeds nie afsluiting vind nie. Dit is omdat die man wat glo verantwoordelik was vir die ongeluk steeds vry rondloop.

Dít omdat die polisie kwansuis nie voertuie het om hom in hegtenis te neem nie.

Pieter Rossouw (48) en sy seuns, Jannie (13) en JP (10), is op 18 Augustus 2019 in ʼn grusame ongeluk op die R33 naby Marble Hall dood, toe hulle omstreeks 18:14 in ʼn botsing by die berugte Slagboom-aansluiting betrokke was.

Maroela Media het vroeër berig die pa en seuns was op pad huis toe, toe die bestuurder, van ʼn Nissan Navara wat aan Old Mutual behoort het, glo ʼn stopteken verontagsaam en teen ʼn Datsun-motor gebots het.

Die Rossouws se bakkie het met die slag gerol en in ʼn sloot langs die pad beland, waarna die brandstoftenk ontplof het. Met reddingswerkers se aankoms op die toneel was die voertuig in vlamme gehul en hulle kon nie naby die insittendes kom nie.

Volgens Annali Connear (51), Pieter se suster, was die twee jong seuns op slag dood. “My broer het nog gelewe – hy het gebrand en niemand kon hom help nie.”

Die uitgebrande Datsun (Foto: Verskaf)

Die bestuurder van die Nissan Navara, Jabu Eric Mokwebu, het van die toneel gevlug. Hy het hom wel die volgende dag aangemeld by die polisie om te sê dat hy ook seergekry het, maar is nooit in hegtenis geneem nie.

Connear sê nou hulle is moedeloos gepleit dat geregtigheid geskied.

Omdat die polisie skynbaar nie in staat daartoe was om teen Mokwebu op te tree nie, het Connear self na hom begin soek en hom uiteindelik, met behulp van speurders, in April verlede jaar opgespoor. Sy het sy adres vir die polisie gegee en hy is kort daarna in hegtenis geneem.

Hy is egter op borgtog van R500 vrygelaat, en het versuim om op te daag vir die hofsaak. ʼn Lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik, maar die polisie het hom nooit in hegtenis geneem nie.

“In April is dit weer ʼn jaar wat verbygegaan het. Niemand het al geboet vir my broer en sy twee pragtige jong seuntjies se gruwelike dood nie. Hoe moet ek vergewe en met my lewe aangaan?”

Connear sê sy het Makwebu intussen weer – In November verlede jaar – opgespoor.

“Ek het sy nuwe adres weer aan die ondersoekbeampte deurgestuur, maar hy is nog steeds nie in hegtenis geneem nie.”

Sy sê die ondersoekbeampte het ook in Januarie laas op haar oproepe en boodskappe reageer.

Volgens die laaste boodskap wat die ondersoekbeampte aan Connear gestuur het – en wat Maroela Media onder oë gehad het – het die polisie in Marble Hall glo nie genoeg voertuie om Makwebu in hegtenis te neem nie.

“Makwebu het nie by die hof opgedaag nie en ek het ʼn lasbrief om hom in hegtenis te neem. Die probleem is dat ons egter nie voertuie hier by ons het nie. Hulle is almal stukkend. Dit is baie ou voertuie,” lui die boodskap.

Genl.maj. Samuel Manala, speurbevelvoerder van Limpopo, sê egter dít is bog. “Ons het hom in hegtenis geneem, maar hy is op borgtog vrygelaat. Dit is dus nie ʼn probleem wat by die polisie lê nie, maar met die regstelsel.”

Intussen ry niemand aan die pen vir wat met Rossouw en sy seuns gebeur het nie.

“Dit bly by my spook. My hart kan doodeenvoudig nie aanvaar dat my broer op so ʼn wrede manier moes sterf nie,” sê ʼn emosionele Connear.

“Ek wens ek kon hom net bel en hoor hoe dit met hom gaan. Ek wens ons kon weer die kinders vat en bietjie gaan kamp. Dit voel vir my of niemand my hartseer verstaan of my wil help nie.

“Jannie sou in sy skool se leerderraad dien. Hy was so ʼn oulike seun, en JP was ongelooflik goed in sport. Hulle het regtig goed presteer en het ʼn blink toekoms voor hulle gehad … en hulle is dit ontneem.”

Sy sê hierdie ervaring was vir haar tot dusver hel.

“Ek sal nooit rus voor daar nie geregtigheid geskied vir wat met my boetie en sy twee seuntjies gebeur het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Elsa ·

Dit is absolute bog dat hulle geen voertuie het nie. Elke jaar kry hulle ten minste 1 nuwe voertuig, maar die probleem is dat dit gerieflikheidshalwe by die huise staan en heeldag vir “privates” gebruik word en mense tussen huis en werk rondry. Marble Hall is een van die swakste stasies wat dienslewering aanbetref en jy kry geen tot min hulp van die betrokke stasie af nie. Ek dink dit is tyd dat die familie Afriforum of Solidariteit betrokke kry. Sterkte aan die familie, ek kan nie eers dink waardeer hulle moet gaan nie.

Papsak ·

Ja hierdie is n hartseer storie regtig en wyse waarop pa en seuns dood is nog hardseerder ooit sterkte aan familie en vriende R.I.P

Yvonne ·

Ek sukkel om te verstaan wat en hoe van die SAPD lede hulle werk doen…??

Christine ·

My hart huil vir die ongeregtigheid vir die dood van hierdie pragtige seuns en hul pa. Ek besef niks sal hul terugbring nie, maar dis ontstellend dat die wet en orde in ons land tot so ‘n lae vlak gedaal het. In hegtenisnemings word is sekere sake van minderheidsgroepe, baie doeltreffend uitgevoer, terwyl groot misdade oor die hoof gesien word.

Amelia ·

Was dit anders om sou persoon nie borg gekry het nie en lewenslank gesit het maak my ook ongelukkig waar is die geregtigheid

Spotty ·

Hoekom word daardie Polisie nog n salaris betaal as hulle niks doen nie? Of anders gevra wat doen hulle nou eintlik behalwe sit en niks doen?

Althes ·

Dit voel vir my ons word volgens ons velkleur gediskrimineer, want ek het nog nooit gehoor van wit mense wie so min borg moet betaal nie
Ons soek geregtigheid vir hierdie ernstige oortreding

Misky ·

Sulke berigte maak my hoogs ontsteld. Hoe is sulke dinge moontlik en kom sekeres weg daarmee????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.