Jason Rohde jok uit skaamte oor bakleiery met sy vrou

Jason Rohde (Foto: ANA)

Jason Rohde, wat in die Wes-Kaapse hooggeregshof tereg staan op aanklag van die moord op sy vrou Susan, is Donderdag deur die Staat daarvan beskuldig dat hy ʼn leuenaar is, en daarop gewys dat hy nie eerlik was oor die fisiese bakleiery wat hy met sy vrou gehad het, ure voor haar dood nie.

Staatsaanklaer Louis van Niekerk het aan die hof gesê Rohde het in sy verklaring aan die polisie gejok en wou ook weet waarom hy gesê het dit was ʼn “meningsverskil”, alhoewel hy aan sy skoonpa erken het dat hy en sy vrou baklei het.

Susan se liggaam is in 2016 in die egpaar se hotelkamer by die Spier-wynlandgoed in Stellenbosch gevind. Sy het aan ʼn elektriese koord gehang aan ʼn haak agteraan die badkamerdeur.

Rohde het gesê hy was verleë toe hy sy verklaring aan die polisie gegee het, want sy familie was ook teenwoordig. “Wel, toe ek my verklaring afgelê het, was ek saam met my familie. Wie wil voor sy familie erken dat hy met sy vrou gestoei het?”

“So jy het gejok,” het Van Niekerk volgehou.

“As jy daardie woorde wil gebruik, dan ja, ek het gejok. Maar vir my was dit nie ʼn leuen nie, maar soos ek gesê het, ek was verleë,” het Rohde geantwoord.

Die saak hervat Maandag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Blom ·

Jok is net ‘n mooi naam vir lieg!! By ‘n moordsaak is dit lieg!

Snowball ·

Lieg, jok, kluitjies bak, waarheid verdoesel, ekonomies met die waarheid wees, alles kom maar op een ding neer – jy lieg om jou eie bas te red. Al gaan die leuen hoe snel, die waarheid agterhaal hom wel.. ..

Cor ·

Ek lees op ander media die man is nogal arogant in hof met die aanklaer. Sekerlik is hy besig om hom self dieper in die moeilikheid in te lieg

Mielie ·

Hy probeer homself baie goed uitbeeld. Sal vertel watter woorde en taal sy vrou gebruik het, maar nog nie sy vloekwoorde en taalgebruik aangehaal nie. Ook n selektiewe geheue. Watter tipe man is hy dat hy uit n kamer storm na sy skelmpie wetend dat sy vrou hom heel moontlik gaan verneder voor haar. Wereldklas Leuenaar.

PIPPIE LANGKOUS ·

Waar kom jy daaraan dat hy nie sy eie woorde aangehaal het nie? Hy erken hoeveel kere watse lelike taal hulle albei gebruik het.

PATSY ·

Dis dalk die rede hoekom hulle baklei het agv sy skelmpie. As daar reeds probleme tussen hulle was en Susan het op die nippertjie besluit om saam te gaan beteken dit sy was jaloers. Mans/Vrouens wat skelpies het weet nie watter onreg en vernedering hul aan hul wederhelftes doen nie. Dalk wou Susan hom laat skrik en worry maar toe loop dinge verkeerd. Wie sal nou wel wat die werklike waarheid is?

Francois Marais ·

Ek glo soos Oscar Pistorius moes hulle eerder met die hele sak patats uitgekom het aan die begin. Die saak is soortgelyk. Bakleiery emosioneel en verbaal en toe knak iemand op ingewing van oomblik. Mag dan moontlik versagting gekry het, dalk selfs onskuldig agv tydelike geestelike ontoerekeningsvatbaarheid.

Se maar net ·

Ek wonder of mense soos Rohde en Van Breda besef dat hulle nie net “sommer aangekla” word nie. Daar moet geldige redes en bewyse wees alvorens hulle vervolg kan word. “Leuenaars” onderskat die intelligensie van ander.

Al ·

Ek glo dat baie oortreders dink omdat staatsdepartemente uitmekaarval die gereg is in dieselfde toestand.
Groot fout wat hul maak.

Koos ·

Verskoon die woordspeling, maar dit klink of ou Jason besig is om homself op te hang met sy verduidelikings. Hoekom moes hy haar aan die nek/keel vashou om haar uit die pad te kry sodat hy buitentoe kon gaan? Die pendulum swaai nou al vinniger na die staat se kant toe…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.