Jason Rohde op borgtog vrygelaat

Rohde tydens sy vorige hofverskyning. Foto: Skermskoot eNuus-video

Rohde tydens sy vorige hofverskyning. Foto: Skermskoot eNuus-video

Jason Rohde, die uitvoerende hoof van Sotheby’s International Realty South Africa, is Dinsdag in die Stellenbosch-landdroshof op borgtog vrygelaat.

Rohde is op borgtog van R100 000 vrygelaat. Hy moes die bedrag onmiddellik betaal om uit polisie-aanhouding vrygelaat te word. Hy moet egter ook voor of op 14 September ‘n bankwaarborg aan die hof verskaf vir die bedrag van R1 miljoen.

Die staat het ingestem dat Rohde tereg sal staan op ʼn skedule 5-aanklag – moord sonder voorbedagte rade. Die staat het ook aan die hof gesê dat hy nie Rohde se borgtogaansoek sal teenstaan nie, maar het versoek dat Rohde onder huisarres geplaas word.

Rohde se vrou, Susan (47), se liggaam is die oggend van 24 Julie in die badkamer van ʼn hotel op die Spier-wynlandgoed gevind, waar sy met die koord van ʼn haartang opgehang is. Rohde beweer dat sy selfmoord gepleeg het, terwyl die staat aanvoer Susan is verwurg. ʼn Private patoloog en staatspatoloog wat verskillende nadoodse ondersoeke gedoen het, is dit nie eens oor hoe Susan gesterf het nie.

Rohde se borgtogvoorwaardes behels onder meer dat hy drie keer per week by ʼn polisiestasie moet aanmeld. ʼn Beëdigde verklaring van Rohde se swaer is ook ingedien waarin hy sê dat Rohde by hom in Melkbosstrand sal tuisgaan. Rohde is gewaarsku om nie met enige staatsgetuies kontak te maak nie en waar staatsgetuies ook sy kollegas is, mag hy nie die saak met hulle bespreek nie.

Rohde se regspan het versoek dat die staat verslae aan hulle bekendmaak waarin Susan se beserings glo gemeld word. Die staat het gesê hy is onder geen verpligting om die dokumente bekend te maak nie en die versoek is geweier.

Die saak is tot 23 September uitgestel.

Lees alle vorige berigte oor Jason Rohde op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Hannelie ·

Ja Johan so waar…..geld maak als reg wat krom is. Maar dit gaan hom nié gelukkig maak nie.

Anoniem ·

Hier kom weer n laaaaaaaannnnnggggggg uitgerekte saak…….

Asjas ·

Indien dit waar is dat hy ‘n buite-egtelike verhouding gehad het en sy het werklik self moord gepleeg, is hy nog steeds skuldig in my oe. Hy het haar daartoe gedryf en sy minares is medepligtige.

Boffin ·

TV kanale kan maar so lank die kameras regkry…..Nog n tragiese dood van n mens en hofsaak wat die nuustoneel vir n ruk gaan oorheers as hofsaak in Hooggeregshof gaan begin

SkarrelKind ·

Ek weet nie wat om hiervan te maak nie. As die patoloë nie saamstem nie het ons ‘n probleem. Al gewonder of hy nie werklik onskuldig is nie? Hy kon mos gedink het as hy haar verwurg het, dat daar sulke beserings in ‘n nadoodste ondersoek kan uitkom? En hy is nie onnosel nie, hy moet intelligent wees om so welvarend te wees?

Cherokee ·

Ek dink, na aanleiding van twee enkele sinne wat met vele dae tussinin in berigte was, dat daar vermoed word dat hy haar verwurg het en toe ‘n scene opgesit het wat dit na selfmoord laat lyk het. In hierdie berig is dit die lyn wat sê dat hy tereg sal staan op aanklag van moord sonder voorbedagte rade.
As hy so koelbloedig was dat hy haar verwurg het en toe ‘n selfmoordtoneel opgerig het, moet hy tereg staan. Vaagweg dink ek dat daar ook ‘n storie is oor ‘n vorige vrou wat dieselfde pad geloop het.

René ·

Ek dink ook hy is onskuldig want die badkamerdeur was van binne gesluit. Die hotel se sekuriteit moes dit gaan oopmaak. Nou hoe wil ek weet sou hy dit van binne kon sluit?

Esmay ·

Soos ek in n vorige berig gelees het was n badkamer venster oop, en stukkend. Ek dink hy het deur self v binne gesluit en is by venster uit. Die kameras was buite werking

Georgie ·

Netwerk24 berig dat hy op borgtog v R1,1 miljoen vrygelaat is…?

Mag WAARHEID en GEREGTIGHEID in hierdie saak seëvier!

Sune van Heerden ·

Dagsê Georgie

Ons vra om verskoning indien die berig verwarrend was. Jason Rohde is wel vrygelaat op borgtog van R1,1 miljoen, maar hy moes dadelik R100 000 kontant oorbetaal om uit polisie-aanhouding vrygelaat te word. Ons het die berig nou gewysig om meer duidelik te wees.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

KarooKlong ·

Maroela, onder korreksie wil ek noem dat ek op tv nuus verstaan het dat hy slegs waarborge moes lewer vir 1 miljoen. Het wel R100 000-00 borg betaal. Nieteenstaande klink julle bogemelde verduideliking ook reg op die oor.
Karoo groete.

Magda ·

Indien hy aan sy vrou al hierdie dinge gedoen het wat die staat beweer – al is die deur van binne die badkamer gesluit, kon hy moontlik deur die badkamervenster uitkom. My vraag is egter of die badkamervenster groot en hoog genoeg is om hom deur te gelaat het en indien wel, iewers moet mos vingerafdrukke wees. Sou hy handskoene gebruik het is dit mos met voorbedagte rade of kon hy iet anders gedoen het om sy “handmerke” te verbloem?
Wat van sy buite-egtelike maat – hoe intensief is sy ondersoek? Watter kan toe ook al, hierdie persone in buite-egtelike verhoudings sal op ‘n manier moet opdok finansieel of hoe ook al teenoor die agtergeblewenes vir ewige skade ens. Hierdie egbrekers kan nie ongestraf gelaat word en voortgaan met hul lewe terwyl die ander party en sy/haar gesin ten gronde gaan nie. Maak nie saak hoe welaf of arm ‘n fammilie is nie.

Scalla ·

Weet iemand hoe die formule/berkening van borg bepaal word? Waarborg ens. vorm ras ook deel van die besluit? Word elke verdagte se status by die reserwe bank gekontroleer? Vra maar net.

Peter ·

Scalla, daar is nie ‘n formule nie. Verskeie faktore word egter in ag geneem. Is hy ‘n vlugrisiko? Erns van die misdaad. Sal hy getuies probeer beïnvloed of terroriseer? Is daar iets wat hom in die land sal hou soos eiendomme, familie. Onthou dat die doel van aanhouding is om te verseker dat die beskuldigde voor die hof sal verskyn.

Theresa B ·

Dis jammer hy het borg gekry. En ja, ek stem – hierdie gaan ‘n laaaaaaaaaaaaaaang uitgerekte saak weer wees. Jip Johann en Anoniem – dis is lekker om baie geld te hê. Dit kan baie vir jou doen as jy in hierdie situasie is.

Ek hoop regtig ·

Ek hoop regtig dat hierdie man die eerlike ding sal doen en liewer eerlik met sy kinders sal wees, vertel wat gebeur het en liewer saam met die staat werk. Jou sake kan dan vir jou baie beter lyk en nie al die vernederings – klomp geld mors etc nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.