Jason Rohde-saak: Psigiater se getuienis kortgeknip

Dr. Larissa Panieri-Peter. Foto: David Ritchie/ANA

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het Dinsdag verdere getuienis van ʼn forensiese psigiater wat vir die verdediging in die moordsaak teen Jason Rohde getuig het, verwerp.

Regter Gayaat Salie-Hlophe het gelas dat die hof nie enige verdere kruisondervraging van dr. Larissa Panieri-Peter sal toelaat nie. Panieri-Peter het Maandag getuig dat Susan Rohde aan erge depressie gely het wat die risiko vir selfmoord aansienlik verhoog het.

Die staat voer aan Rohde het sy vrou vermoor en dit soos selfmoord laat lyk terwyl die verdediging aanvoer Susan het haar eie lewe geneem.

Die Rohde-egpaar het die naweek van 22 tot 24 Julie 2016 Sotheby’s International Realty se jaarlikse geselligheid op ʼn wynlandgoed buite Stellenbosch bygewoon. Susan se liggaam is in die egpaar se hotelkamer gevind. Sy het aan ʼn elektriese koord gehang wat oor ʼn haak agter aan die badkamerdeur geglip was.

Salie-Hlophe het gesê dat daar kapsie gemaak kan word teen Panieri-Peter se verslag aangesien dit inligting bevat wat reeds aan die hof bekend is.

Jason Rohde (Foto: ANA)

“Tensy daar enigiets is wat die getuie onder die hof se aandag wil bring anders as wat reeds op die verslag geskryf staan, is enige verdere ondervraging ontoelaatbaar. Gevolglik is staatsaanklaer [Louis] van Niekerk nie meer versoek om die getuie te kruisondervra nie en die hof het gevolglik geen meer vrae vir die getuie nie. Die getuie is verskoon,” het Salie-Hlophe gelas.

Sy het verder gesê die hof is gereed om die volgende getuie aan te hoor, maar Graham van der Spuy, die advokaat vir die verdediging, het gesê die volgende getuie is eers volgende week Dinsdag beskikbaar.

Die saak sal derhalwe Dinsdag voortgesit word.

Maroela Media het vroeër berig Panieri-Peter het gesê haar gevolgtrekking is dat Susan ʼn aantal kwesbaarhede voor die krisis beleef het. Sy was baie energiek en bedrywig. Sy het van nature nie baie geslaap nie en was in baie opsigte ʼn onseker persoon. Sy was ʼn perfeksionis en wou gehad het die wêreld moet die goeie kant van haar en haar gesin sien. Sy het nie goed wat vir haar pynlik was met ander gedeel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Dr H ·

Vreemd dat die aanklaer nie een maal protes aangeteken het nie. Die regter doen dit…

zoom zoom ·

Die man sal enige iets probeer om homself onskuldig te laat lyk.

Michelle ·

Lees: …anders as wat reeds op die verslag geskryf staan……
Hoe kan sy jok oor iets wat iemand anders ook reeds gese het? Jok almal, sy en die vorige verslag?

anton ·

Han……..Ek dink die meerderheid regters in die land is nie die woord eers werd nie, veral as jy na baie vorige sake kyk en bevindings en uitsprake volg.
Nee wat, my vertroue in ons regstelsel het lankal n duik gevat!!!

Sies ·

Sjoe vieslik om so van ‘n dooie persoon te praat as jy self nie haar geken het nie. Sy was ‘n pragtige vrou, hy kan sy ou skoene agterna gooi vir haar. Enigeen wat net ‘n bietjie depressief of bipoler is sal heeltemal platgeslaan word deur ‘n AFFAIR wat jou man met ‘n kollega het .. kan nie glo dat mense so blind kan wees en steeds die man se kant kies nie. Want AFFAIRS is mos reg.

TLC ·

Dag glo ek dalk het hy en dan glo ek dalk het hy nie So vandag is weer dalk het hy Want hy speel nou vir tyd Hy het klaar bloed aan sy hande omdat hy sy lieflike vrou deur modder gesleep het En n geval van almal weet net nie sy vrou nie. Hoop net die waarheid seëvier hier En laat dit n les wees vir al die rondloper mans en vrouens wees

Denise ·

Sy het nie haar eie lewe geneem nie daar is duisende mense wat aan depressie ly en hulle gaan aan met hulle lewens elke dag !!!!

Johann du Toit ·

Vir my was die hofverrigtinge ‘n leerkurwe. Mag ek nooit gevra word om in die hof te getuig nie.
Ek voel jammer vir Dr.Panieri-Peter want sy is as persoon verneder en haar verslag nutteloos verklaar. Sy is as’t ware by die deur uitgesit. In my eie woorde: “OK, bye, volgende asseblief!”
Dit was duidelik dat Regter Salie-Hlophe nie van die senuweeagtige Dr.Larissa Panieri-Peter gehou het nie. Die regter se lyftaal en gesigsuitdrukking het deurentyd verklap sy is hoogs-verveeld of geirriteerd.
Vir my as leek het Dr.Panieri-Peter se bevindinge ‘n ander perspektief aan die saak gegee. Dit was vir my eienaardig dat die regter ‘n opmerking gemaak het oor die “donker- prentjie” wat Dr.Panieri-Peter geskets het. Dit het voorgekom asof die regter eerder wou hoor die oorledene het nie aan sodanige depressie gely wat moontlik tot selfdood kon lei nie.
Daar was darem ook ‘n bietjie humor betrokke. Ek was verbaas dat ‘n regter ook, soos ek, ” loskoppie” kan wees as dit by datums kom.

Popsa ·

Stem ernstig saam met Johann. Hierdie dokter sou nié haar professionele reputasie op die spel geplaas het as sy nie heelhartig oortuig was van haar diagnose nie. Sy weet waarvan sy praat. Haar verslag en opinie verskaf inligting en agtergrondfeite wat grootliks kan bydra tot die begrip en oplossing van hierdie saak. Dis jammer dat die regter in ‘n tragiese saak soos dié nie bereid is om saam te werk met ‘n hoogsgekwalifiseerde en professionele persoon van hoë ingriteit nie. Dis nog jammerder dat die dokter ná haar reuse inset só behandel word deur die hof. Na alles is sy ver meer bekwaam as ‘n sielkundige om ‘n tragiese situasie soos hierdie binne die raamwerk van ‘n veel wyer spektrum te assesseer. Haar getuienis dra wel baie deeglik gewig en dit word bloot tersyde gestel. Wie kan dan die wysheid en neutraliteit van die hof aanvaar?

Alda ·

Ek kan verstaan hoekom die regter geirriteerd was met die psigiater se verslag en getuienis. Dis nie haar plek of kundigheid om getuienis te herhaal en dan nog selfs teenstrydig in party gevalle nie – bv die sielkundige se eie interprestasie te verander. Soos dit vir my klink is hier baie geld by betrokke en is Mr Rohde baie goed afgerig. Persoonlik dink ek nie Susan Rhode het selfmoord gepleeg nie, maar sal wag tot die hof besluit.

Koos ·

Alda dankie vir jou nugter gebalanseerde mening. Dis skrikwekkend om die gepeupel se “regsmenings” te lees. Dit onderstreep net weereens waarom boendoehowe nooit, maar nooit toegelaat mag word nie. Larissa het mos in Oscar en Henri se sake ook getuig, en Najwa Pietersen s’n ook. Altyd vir die verdediging natuurlik. Niks verkeerd daarmee nie, maar as ‘n deskundige getuie eers eenmaal goed gekneus word in so hoëprofielsaak kry hy of sy naderhand ‘n etiket. Hoe kan sy oor Susan Rohde so verslag opstel alles op hoorsê gebaseer? Sterkte Jason, jy gaan dit nodig kry ou broe…

Middie ·

As Susan selfmoord wou pleeg sou sy dit tog maklik in haar man se afwesigheid tuis kon doen. Waarom saamgaan en dit in die hotelkamer gaan doen?

Hilda ·

Wat ek nou sê is met respek… het hulle al gedink om dame van selfde bou en gewig te neem, en op so deurhak te laat hang om te kyk of dit tegnies moontlik is dat sy selfmoord gepleeg het? Ek sukkel om te verstaan dat een aan deurhak kan hang en dood gaan…..en dit nogal nakend ook. 1+1 maak net nie 2 hier nie.

Capexit ·

Die verdediging het nie hul werk gedoen nie. Hul moes hul getuie ingelig het oor wat van haar verwag word in die getuiebank nie. Hollywood reg en SA reg proses verskil hemelsbreed. Was al daar, harde lesse geleer wat ek sedertdien nie weer in die getuiebank herhaal het nie.

Gestremde ·

Wat sê die gesegte…geld maak reg wat krom is. Al die “geleerde getuies” tree in belang van die beskuldigde op en word sekerlik goed daarvoor betaal. Dit maak nie vir my sin dat Susan haar eie lewe sou neem terwyl sy kaal was terwyl sy so perfeksionisties is nie. Ook nie die metode waar sy haarself glo agter ‘n badkamerdeur aan ‘n hak opgehang het, wat moontlik nie eers haar gewig sou kon dra nie. Sy sou tog besef het dat iemand op haar naakte lyk sou afkom en dat die poging kon misluk het. Dus volgens my nie die profiel van ‘n perfeksionis nie. Verder was hulle ook welgesteld gewees en sy sou ‘n groot bedrag van hom kon eis as sy skei en dit dan kon gebruik het as ‘n metode van vergelding. Die beskuldigde wou haar stil maak vir permanent en dit wil vir my voorkom dat sy ook nie wou skei nie. Die Mnr. Rohde sal met ‘n beter storie moet opmaak en eerder met die waarheid uitkom wat werklik gebeur het want dit was definitief nie selfmoord nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.