Jason Rohde-saak: ‘Susan is versmoor,’ sê staat

Jason Rohde. Foto: Ayanda Ndamane/African News Agency(ANA)

Die staat het Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof aangevoer Jason Rohde het sy vrou, Susan, versmoor.

Staatsaanklaer Louis van Niekerk het aan Rohde gesê dat die staat sal aanvoer dat hy en Susan nie die aand voor haar dood gaan slaap het soos Rohde aangevoer het nie. “Nadat jy van Jolene [Alterskye] af teruggekeer het, het jy voortgegaan met die argument en in ʼn stadium het jy só keelvol geraak dat jy haar net wou stilmaak.” Alterskye en Rohde was in ʼn buite-egtelike verhouding betrokke en Susan het hom in Alterskye se kamer by die Spier-landgoed gaan haal.

Die Rohde-egpaar het die naweek van 22 tot 24 Julie 2016 Sotheby’s International Realty se jaarlikse geselligheid by dié wynlandgoed buite Stellenbosch bygewoon. Susan se liggaam is in die egpaar se hotelkamer gevind. Sy het aan ʼn elektriese koord gehang wat oor ʼn haak agteraan die badkamerdeur geglip was.

Rohde het dié aantyging verwerp en gesê: “Dit is nie waar nie! Dit is nie waar nie, advokaat. Ek is nie ʼn moordenaar nie.” Van Niekerk het egter voortgegaan: “Jy het só keelvol vir haar geraak dat jy haar versmoor het en toe jy sien sy haal nie asem nie, het jy paniekerig geraak en probeer om dit soos selfmoord te laat lyk.”

Die verdediging het later die dag dr. Reggie Perumal as ʼn getuie geroep. Perumal, ʼn forensiese patoloog, het ʼn tweede lykskouing op Susan se liggaam gedoen en bevind sy is waarskynlik dood nadat sy haarself gehang het.

Susan en Jason Rohde. Foto: Facebook

ʼn Staatspatoloog het bevind Susan is dood weens ʼn gebrek aan suurstof nadat sy gewurg en versmoor is. Die lykskouing wat deur Perumal gedoen is, het egter bevind Susan se beserings was in ooreenstemming met Rohde se weergawe van gebeure dat hy sy vrou gevind het waar sy aan ʼn elektriese koord gehang het.

Adv. Graham van der Spuy, vir Rohde, het regter Gayaat Salie-Hlophe gevra of hy kan uitbrei oor Perumal se kwalifikasies.

Perumal het hierna aan die hof gesê dat hy al meer as 10 000 lykskouings gedoen het en ook verskeie lykskouings bygewoon en advies daaroor gegee het. Die hof het verder gehoor Perumal is tans deel van die span wat die Marikana-slagting in 2012 ondersoek en dat hy reeds 17 lykskouings in die verband gedoen het.

Perumal het aan die hof gesê hy het in talle hoëprofielsake getuig en is ook deur Oscar Pistorius gehuur om Reeva Steenkamp se outopsie by te woon.

Die saak hervat Woensdag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

DS ·

Ongeag – nie dat ek sy weergawe glo nie – hy het sy vrou se dood veroorsaak. Want as – soos hy beweer – hy haar nie vermoor het nie het sy buite egtelike verhouding haar tot selfdood gedryf. So skuldig is jy skuldig – direk of indirek.

Koos ·

Niks fout daarmee nie. Hy’t egter te min daarvan gesaai… Skuldig gaan hy bevind word. End of the Rohde I’m afraid.

WIEBO ·

Buite egtelike verhouding KAN NOOIT UITWERK NIE!!!!! Lekker om die kat in die donker te knyp, maar ALTYD n hartseer storie op die einde. Kan opgevoede volwasse mense dit nie besef nie?? Laat Rhode gestraf word.

Skuus ·

Ek wonder of hy en die dame nogsteeds in n verhouding is? En wat dink sy oor haar aandeel in die saak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.