Jayde Panayiotou: Gedenkdiens by skool gehou

Blomme en kerse by die Riebeeck College Girl’s High School. Foto: Twitter

Blomme en kerse by die Riebeeck College Girl’s High School. Foto: Twitter

ʼn Gedenkdiens is Vrydag by die Riebeek College Girls’ High School in Uitenhage gehou vir Jayde Panayiotou (29), die onderwyser van Port Elizabeth wat vroeër die week ontvoer en vermoor is.

Ouers en leerlinge het Vrydag hulde gebring aan hul geliefde onderwyser. “Jayde sou vandag verskriklik trots op julle gewees het,” het die skoolhoof gesê.

Panayiotou, wat klas in geesteswetenskappe gegee het en hokkie afgerig het, is Dinsdag buite ʼn veiligheidskompleks in Kabega Park ontvoer. Haar liggaam is Woensdag in ʼn afgeleë gebied naby die Kwanobuhle-township buite Uitenhage gevind. Sy is geskiet.

“Jy was ʼn suster en ʼn skoonsuster vir my. Jy het altyd advies gegee. My broer is baie lief vir jou en jy vir hom,” het Chloe, Panayiotou se skoonsuster wat ook ʼn onderwyser by die skool is, gesê.

Jayde en haar man Christopher. Foto: Facebook

Jayde en haar man Christopher. Foto: Facebook

ʼn Muur van herinnering is intussen by die skool aangebring. “Ek belowe daardie mense sal boet,” lees een van die boodskappe. “Ek is so lief vir jou. Ek hoop jy rus in vrede. Jy sal vir altyd in my hart wees,” lees ʼn ander boodskap.

Talle leerlinge het erg begin huil tydens die diens en moes deur ouers en onderwysers getroos word. “Sy was iemand met wie jy altyd kon gesels. Sy was altyd so gelukkig. Sy was so liefdevol dat sy nie eers vir ons kon skree nie,” het Leone Ewerts, wat voorheen by Panayiotou klas gekry het, gesê.

Panayiotou het enkele maande voor haar dood vir leerlinge in haar klas lesse in selfverdediging gegee.

Die polisie het intussen foto’s uitgereik van Panayiotou se verloof- en trouring wat tydens haar ontvoering en moord gesteel is. Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met Panayiotou se moord nie. Begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.

Klik hier vir alle vorige berigte oor Jayde Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Issabelle ·

Aaaai , wat meer kan mens se oor hierdie misdaad wat so wreed gepleeg word !!! Hoe troos mens die geliefdes , vriende & familie wat agter bly !!! Sjoee , dit is hartseer & skokkend om so wreed vermoor te word sonder om enige familie of geliefde te groet ! Baie sterkte aan al die familie & geliefdes ! Mag julle elke dag getroos & omvou word met SY liefde & genade !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.