Jayde Panayiotou: Man kry huldeblyk op internet

Jayde en haar man Christopher. Foto: Facebook

Jayde en haar man Christopher. Foto: Facebook

Jayde Panayiotou se man, Christopher (28), het gesê hy is nie goed met woorde nie en dat hy daarom die huldeblyk wat hy verlede Maandag by haar begrafnisdiens gelewer het, op die internet gevind het.

“Jayde woon in die wind soos ʼn natuurlike krag. Sy kan gesien word in die bloeisels; sy is die geel in affodille, haar gunstelingblom. Sy is die kruin van elke brekende golf, sy is die vrugbare grond; sy is die blywende kooltjies in die vuur.” Só het Panayiotou hulde gebring aan sy vrou wat twee weke gelede in Port Elizabeth ontvoer en vermoor is.

Panayiotou se roerende huldeblyk was egter nie sy eie woorde nie, maar is aangepas van ʼn huldeblyk geskryf deur Charles Atkins getiteld “My sweet wife’s eulogy”.

Op ’n vraag van Alwyn Griebenow, Panayiotou se prokureur, waarom hy Atkins se woorde gebruik het as sy huldeblyk aan Jayde, het hy geantwoord dat hy nie goed is met woorde nie en dat hy daarom die internet gebruik vir elke geleentheid wanneer hy voor mense moet praat, insluitend by sy troue.

Panayiotou is na bewering verlede week in hegtenis geneem vir Jayde se moord, maar die polisie wou nie bevestig dat hy die verdagte is wat Maandag in die hof sal verskyn nie. Brig. Marinda Mills, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagte se naam sal eers bekend gemaak word wanneer hy klaar in die hof verskyn het.

ʼn Tweede verdagte, Thando Siyoli (31), het reeds Vrydag in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn en die saak is tot 7 Mei uitgestel.

Jayde Panayiotou se liggaam is in ʼn afgeleë gebied naby die Kwanobuhle-township buite Uitenhage gevind, nadat sy buite die Stellen Glen-veiligheidskompleks in Kabega Park ontvoer is. Sy het gestaan en wag vir haar vriendin saam met wie sy werk toe sou ry, maar het verdwyn voordat haar vriendin opgedaag het.

Klik hier vir alle vorige berigte oor Jayde Panayiotou op Maroela Media.

News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SNEL ·

Dis om van naar te word. My hart gaan uit na haar ouers, baie sterkte aan julle deur dit alles.

Eish! ·

‘n Mens kan gaan kyk. Deesdae aanmekaar, as dit nie ‘n man is wat sy vrou vermoor nie, dan is dit ‘n vrou want ‘n man vermoor. Anders ‘n kind wat sy ouers vermoor, of ‘n ouer wat sy kinders vermoor. Beter bly ongetroud, en leef jou lewe alleen. Dink my getroude vriende staan ‘n makliker kans om vermoor te word as ek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.