Jayde Panayiotou-moord: Familielid Maandag in die hof

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

Alle oë is Maandag op die Port Elizabeth-landdroshof gerig waar die familielid, wat in verband met die moord op die onderwyseres Jayde Panayiotou in hegtenis geneem is, in die hof sal verskyn.

Maroela Media het verlede week oor die skok-inhegtenisneming berig. Die man se naam kan nog nie bekend gemaak word totdat hy in die hof verskyn het en aangekla is nie. Die polisie wou nie kommentaar lewer op berigte dat Jayde Panayiotou se man die tweede verdagte is wat in hegtenis geneem is in verband met haar ontvoering en moord nie. Klik hier om meer te lees.

Die persoon is glo die meesterbrein agter Jayde se grusame moord. Die polisie het op die verdagte toegeslaan nadat hy kontak gemaak het met Luthando Siyoli (31), wat glo druk op die persoon geplaas het vir meer geld ná, wat die polisie glo, ʼn sluipmoordaanval was op Panayiotou.

Panayiotou se moord het tot groot ontsteltenis in die gemeenskap gelei wat gesê het hulle is siek en sat vir misdaad in Port Elizabeth.

Brig. Marinda Mills, woordvoerder van die polisie in die Oos-Kaap, het gesê daar is nie enige spesiale reëlings getref om ekstra polisiebeamptes na die hof te ontbied nie.

Alwyn Griebenow, een van die topprokureurs in Port Elizabeth, het bevestig dat hy die verdagte verteenwoordig. Die persoon sal aansoek doen om vrygelaat te word op borgtog.

Panayiotou se liggaam is op 22 April op ʼn plaas in Rocklands naby Uitenhage gevind. Sy is in die kop en bolyf geskiet.

Lees alle vorige berigte oor Jayde Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rieks ·

Hierdie daad het soveel haat en ongeukkigheid gebring by baie van ons wat vermoed het dit is net nog ‘n sinnelose moord vir geld, sel foon, of wat ookal. Wat ‘n skok en ontnugtering wanneer dit iemand naby aan jou is. Iemand wat ‘n eed afgele het om jou te beskerm en dan is die verraad die grootste wanneer dit aan die lig kom dat die persoon indirek die skieter agter die pistool was. Mag die regering die doodstraf terug bring, want SA staan klaar bekend as die “moord en wegkom daarmee”land. Mag haar familie berusting kry – ek voel soos ‘n idioot – ek het nogal opgekom vir die lamsak… Mag daar reg en geregtigheid geskied – RIV Jayde.

Dave ·

Jy het opgekom vir hom Rieks en ek het op my beurt ook soort van mis geraai deur te vra of daar werklik nòg ‘n skuldige is en of die berigskrywer dink dat man en vrou familie is. My verskoning dus aan die opsteller van die berig (alhoewel ek dit bloot bevraagteken het).

scalla ·

Tragies, daar is mos ander maniere om n probleem op te los, nie moord nie, laat die skuldiges boet.

sproetjies ·

Ai! Dis gewoonlik ‘n lafaard wat nie ‘n ander mens in die oë kan kyk om ‘n probleem op te los, wat sulke drastiese stappe neem soos moordpleeg. Dat ‘n mens so onnosel kan wees deur jouself in die voet te skiet, gaan my verstand te bowe. Party mense betaal duur skoolgeld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.