Jayde Panayiotou se moordenaar moet opdok vir nóg ʼn moordverhoor

Sinethemba Nenembe in die hof tydens die Panayiotou-verhoor. Foto: Raahil Sain/ANA

Sinethemba Nenembe, wat skuldig bevind is aan die moord op die onderwyseres Jayde Panayiotou, was Maandag terug in die Port Elizabeth-hooggeregshof, dié keer in verband met die moord op ʼn bejaarde vrou.

Nenembe is verlede jaar in dieselfde hof saam met Christopher Panayiotou, Jayde se man, en Zolani Sibeko skuldig bevind aan Jayde se moord in April 2015.

Nenembe is gevolglik gevonnis tot lewenslange tronkstraf vir die moord en 15 jaar tronkstraf op aanklag van roof met verswarende omstandighede.

Die hof het Maandag gehoor dat Nenembe nog sy private regskoste vir sy prokureur, Peter Daubermann, moet betaal om hom te verteenwoordig in verband met die moord op die bejaarde vrou, Denise Webber (78). Webber is in Augustus 2015 in Kabegapark vermoor. Haar hande en voete is vasgebind en sy is verwurg. Talle huishoudelike items is gesteel, maar later deur die polisie teruggevind.

Nenembe staan saam met drie ander beskuldigdes tereg op aanklagte van moord en roof in verband met dié voorval. Een van die ander verdagtes is Thanduxolo Vumazonke. Hy is ʼn familielid van Sizwezakhe Vumazonke, wat ook een van die beskuldigdes in die Panayiotou-saak was. Sizwezakhe is egter kort voor Panayiotou se verhoor begin het dood.

Die ander twee beskuldigdes in die Webber-moordsaak is Fikile Mengo en Mkhuseli Ngqanda.

Volgens die klagstaat was Webber by die huis met haar huishulpe, Nolukhanyo Mafuduka en Mengo, toe die wrede aanval ontvou het.

Drie aanvallers het gewapend by die huis opgedaag waar Mengo aan hulle uitgewys het waar Mafuduka in die huis besig was. Die mans het Mafuduka gedreig en haar hande en voete vasgebind. Hulle het daarna glo vir Webber vasgebind en verwurg.

Volgens die staat het die drie beskuldigdes, met die hulp van Mengo, huisware ter waarde van altesaam R120 000 gesteel.

Daubermann het Nenembe regdeur die Panayiotou-verhoor verteenwoordig. Daubermann het egter Maandag aan die hof gesê hy wag steeds vir finansiële aanwysings van Nenembe se ma.

“Sy ma is besig om finansiering vir die verhoor te reël. Ek wil nie in dié stadium onttrek nie. As die geld teen Junie nog nie beskikbaar is nie, sal ek Nenembe dienooreenkomstig van raad bedien,” het Daubermann gesê.

As Nenembe dan steeds nie die regskoste kan betaal nie, sal ʼn regshulpprokureur aan hom toegewys word.

Die saak is tot 20 Augustus uitgestel.

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Ekke ·

Vreeslik om dit so te stel, maar dit wil voorkom asof moord die nasionale sport in Suid-Afrika geword het. ‘n Lewe beteken niks meer nie.

marous ·

Die prokureur dikteer vir die hof oor sy fooi wat uitstaande is , en daar word gehoor gegee? Jurisprudence buig vooroor vir Mammon!

Koos1 ·

marous, geen mens werk verniet nie. As hy die prokureur se dienste wil behou moet hy daarvoor betaal of ‘n prokureur van die staat aanvaar. Dis nou nie soos ‘n doktor, waar versuim, lewens kan kos nie.
Ek glo ook dat daar tans geen kontrak is tussen hom en sy prokureur nie, en al rede hoekom die prokureur na die hof gaan is op opdrag van die hof, omdat hy nie van minagting van die hof aangekla wil word nie.

Vreeslik ·

Hy moes nooit vrygelaat word om nog ‘n moord te pleeg nie, maar in SA as jy die regte kleur is kry jy borg of word jy op parool vrygelaat,. as jy blank is sit jy vir ‘n doodskis video vir 16 jaar .. belaglik ..

Lorita ·

Kry hy nie skaam om ‘n moordenaar te verteenwoordig?? Wat sommige mense aan hul gewete sal doen vir geld, gaan my verstand te bowe.

Piet Snot ·

Lorita, as jy van moord aangekla word, sal ek dit dalk oorweeg om jou te verdedig. Maar net as jy vooraf ‘n behoorlike deposito betaal het.

Ons vir jou Suid-Afrika ·

Net om terug te kom om daai doodskisvideo en 16 jaar tronkstraf, weet , wat ek nou nie verstaan nie is die volgende, sekere mense doen net wat hulle wil, ek bly in die buiteland, maar rerig, hoekom gaan haal julle nie daai twee arme ouens uit die tronk nie? Ek dink n paar rand se omkoop geld gaan die ding doen, probeer bietjie?

Debbie Spies ·

Pateties…. Dis Suid-Afrika vir jou. Mense se lewens het geen waarde. Hoe laat mens ‘n moordverdagte vry net om verder te moor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.