Jayde se familie in trane toe patoloog getuig

Jayde Panayiotou. Foto: Verskaf

Jayde Panayiotou. Foto: Verskaf

Jayde Panayiotou se familie en vriende het Donderdag hardop in die hooggeregshof in Port Elizabeth begin huil toe ʼn forensiese patoloog in grafiese besonderhede getuig het oor die beserings wat sy opgedoen het tydens haar moord.

Dr. Kevin Fourie het getuig Jayde is in die rug geskiet en dat die koeël deur haar linkerlong gedring het. Die tweede skoot het haar ruggraat afgeskiet en tot gevolg gehad dat sy verlam was.

“Daar sou ʼn gebrek aan motoriese funksie wees en sy sou neergeval het.” Jayde is hierna in die kop geskiet. Jayde se ma en sussie, Michelle en Toni, het die hof verlaat toe Fourie getuig het oor Jayde se longe, ribbe, brein en skedel wat geperforeer is. Jayde se man, Christopher, en sy familie het geen emosie getoon terwyl Fourie getuig het nie.

Rachel Windvogel, wat naby die Kwanobuhle- informele nedersetting woon waar Jayde se lyk gevind is, het Woensdag getuig sy het die oggend van 21 April 2015 drie “duidelike” skote vinnig na mekaar gehoor.

Volgens Windvogel was sy bang nadat sy die skote gehoor het, maar het sy nie die polisie gebel nie. Sy het eers bewus geword van wat gebeur het nadat die polisie die volgende dag by haar huis opgedaag het.

Panayiotou word daarvan beskuldig dat hy die meesterbrein is agter Jayde se ontvoering en moord. Die staat voer aan hy het Luthando Siyoni, ʼn uitsmyter by sy Infinity-nagklub, betaal om Sizwezakhe Vumazonke as sluipmoordenaar te huur. Vumazonke is glo deur Sinethemba Nenembe bygestaan om die ontvoering en moord uit te voer. Sibeko is in Julie vanjaar in hegtenis geneem nadat hy deur sy selfoon verbind is met die saak. Hy was glo saam met Nenembe en Vumazonke by die kompleks waar Jayde ontvoer is.

Siyoni het intussen staatsgetuie geword en Vumazonke is vroeër vanjaar in aanhouding dood.

Die verhoor duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Adeline ·

Ek kan my nie eers die angs voorstel wat hierdie arme vrou moes deurmaak nie.
Ek hoop hierdie lummel kry wat hom toe kom.

Elize C ·

Ek besef dit is ‘n onvanpaste vraag in die hartseer omstandighede, en ek bedoel geen dis-respek teenoor enigiemand nie, maar ek het van die begin van die tragedie af gewonder: was Jayde en Christopher se samesyn ‘n “gereëlde huwelik”? (Arranged marriage)

Elize C ·

@ Annakapat, ek vra omrede die geskiedenis vele voorbeelde het van “arranged marriages”, waar die paartjie geen gevoelens vir mekaar het nie, maar deur hul families gedwing word om te trou, terwyl een van die partye dalk reeds verlief is op iemand anders. Hulle voel vasgevang in ‘n liefdelose huwelik met iemand vir wie hulle dalk nie eens respek het nie, en dit loop gewoonlik uit op buite-egtelike verhoudings en/of erger…..

Maria van Dieweeck ·

Waarom nie net maar skei nie? Seker weer geld..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.