Jayde se laaste oomblikke

Jayde Panayiotou. Foto: Verskaf

Jayde Panayiotou. Foto: Verskaf

Die besonderhede rakende Jayde Panayiotou se laaste oomblikke voordat sy doodgeskiet is, is in die Port Elizabeth-landdroshof aangehoor tydens haar man, Christopher, se borgtogaansoek.

Panayiotou (28) staan tereg op aanklagte van sameswering tot moord, moord, ontvoering, moord met verswarende omstandighede en regsverydeling. Thando Siyoli (31) en Sizwezakhe Vumazonke (30) is Panayiotou se medebeskuldigdes.

Lt. Rhynhardt “Kanna” Swanepoel, die ondersoekbeampte, het tydens sy getuienis oor hoekom Panayiotou nie op borgtog vrygelaat moet word nie, Jayde se laaste oomblikke herroep. Swanepoel het gesê daar is deur GPS-tegnologie vasgestel dat Vumazonke by verskeie geleenthede na die Stellen Glen-kompleks, waar Jayde en haar man gewoon het, gery het om vertroud te raak met die omgewing.

Volgens Swanepoel het Vumazonke opdrag gekry om Jayde voor die kompleks te vermoor en dit soos ʼn rooftog te laat lyk. Swanepoel het gesê Vumazonke het die oggend van 21 April weer na die Stellen Glen-kompleks gery waar Jayde buite gewag het op ʼn saamrygeleentheid. GPS-tegnologie wys Vumazonke het eers om die kompleks gery voordat hy by Jayde stilgehou het.

Volgens Swanepoel se verklaring is Jayde met ʼn stomp voorwerp teen die kop geslaan waarna Vumazonke haar in die gehuurde motor se kattebak geboender en in KwaNobuhle se rigting begin ry het.

Vumazonke het glo by Rooihoogteweg stilgehou, Jayde uit die kattebak gelaai en haar die veld ingedra waar sy twee keer in die rug en toe in die kop geskiet is. Vumazonke het Siyoli toe glo van die toneel af gebel en gesê die daad is gedoen en dat hy sy betaling soek.

Vumazonke het toe glo na KwaNobuhle gery waar hy R1 500 uit Jayde se bankrekening onttrek het. Hy het later glo na Kwazakhele gery waar hy nog geld probeer onttrek het. Die bankkaart is glo gesluk nadat die verkeerde pinnommer ingetik is. Siyoli het glo ook dieselfde dag met Panayiotou in verbinding getree, gesê die daad is gedoen en die betalings moet afgehandel word.

Volgens Swanepoel se verklaring het Panayiotou die aand na Kwazakhele gery waar hy Siyoli ontmoet het en die geld oorhandig het. Die ontmoeting is glo met behulp van selfoonrekords vasgestel. Panayiotou het in sy verklaring gesê dit is nie waar nie. Hy het erken dat hy Siyoli ontmoet het, maar volgens hom was dit omdat hy inligting ontvang het dat geld uit Jayde se bankrekening onttrek is en dat hy Siyoli genader het om te help soek na Jayde aangesien hy die gebied ken.

Swanepoel het ook getuig dat Vumazonke later die aand Siyoli ontmoet het om sy geld aan hom te oorhandig. Die ontmoeting is glo op kringtelevisiebeeldmateriaal vasgevang.

Panayiotou se borgtogaansoek gaan op 26 Mei voort.

News24

Klik hier vir alle vorige berigte oor die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Paul ·

Hoe vrot in die kop moet jy wees om jou pragtige jong bruid so te laat vermoor.

SNEL ·

Ek stem Paul, vrot verby. Hy het wraggies sy skelm bo sy vrou verkies. Kon hy nie maar net skei nie, maar seker bang gewees hy verloor nog geld, nou gaan hy buitendien niks hê as hy lewenslank tronk toe gaan nie.

Henno ·

Die perd gaan niks oor kom nie. Ons kan nie kla oor ons regs stelsel nie, want daar is nie een nie. Dit was 100% bewys in die Oscar Pistorius saak. Dis hoekom misdaad en geweld die land regeer.

V ·

Ek hoop hul weier sy borgtog.Laat die vark vrot in die tronk.Sielsiek mens!

Retha ·

Mag hy, sy skelm en sy handlangers moeilike dae beleef, natuurlik het nie hy of sy gewetes nie. Mag hulle in die hel brand.

anon ·

hoop hy word gery in die selle en dat sy skelpie res van haar lewe sal swaar kry hoekom skei mans nie nou vermoor hulle ons…………

Gideon ·

Dit is so sleg- nou word SA se swak moord rekord gebruik om van geliefdes ontslae te raak! Hoop daardie man bly vir ewig in die tronk, en daardie vroutjie het beslis geweet dit is ‘n getroude man! Sy behoort ook toegesluit te word!!

malinda ·

Hulle se mos “die deeler is net so skuldig soos die steeler” Hy mag nie op borg uit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.