‘Jayde was ongelooflik alleen,’ sê suster

Christopher Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko (met sy gesig bedek) in hooggeregshof in Port Elizabeth (12 Oktober 2016). Foto: ANA/Raahil Sain

Christopher Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko (met sy gesig bedek) in hooggeregshof in Port Elizabeth (12 Oktober 2016). Foto: ANA/Raahil Sain

Emosies het hoog geloop toe Toni Inggs, suster van die vermoorde Jayde Panayiotou, Woensdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth getuig het waar haar swaer, Christopher Panayiotou, teregstaan vir die moord op sy vrou.

Adv. Terry Price, vir die verdediging, het haar ondervra en Inggs daarvan beskuldig dat sy lelike aanmerkings op Facebook gemaak het oor die verdediging se regspan en die Panayiotou-familie. Price het nietemin gesê hy het baie simpatie vir die Inggs-familie, aangesien hulle ʼn reuse-verlies gely het met Jayde se moord.

Hy het egter bygevoeg hy verstaan nie waarom daar op Facebook na hom as ʼn “vark” verwys is nie en ook nie waarom Inggs beledigende kommentaar oor Christopher se ma, Fanoula, gelewer het nie. Inggs het toe aan regter Dayalin Chetty gesê Price het haar voorheen dom genoem.

Inggs het gesê sy was kwaad en sy wil net geregtigheid vir haar suster hê. “Ek wil hê hy [Panayiotou] moet toegesluit word. My suster is vermoor. Die Panayiotou-familie behandel ons [die Inggs-familie] asof ons die vyand is. Sedert die dag wat Christopher in hegtenis geneem is, het hulle nog geen berou of meegevoel getoon nie,” het Inggs gesê.

Inggs het tydens die tweede dag van die verhoor teen Panayiotou en sy medebeskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko, getuig. Hulle word van betrokkenheid by die moord op Jayde, op 21 April verlede jaar, beskuldig.

Sy was emosioneel toe sy aan die hof vertel het sy het Christopher soos ʼn broer liefgehad en hom “ongelukkig” verdedig het toe sy besef het daar is struweling in hul huwelik. “Ek was bewus van ongelukkigheid in hul huwelik en het ʼn paar keer met Jayde daaroor gepraat. Sy was ongelooflik alleen. Jayde en Christopher het aparte lewens gelei,” het Inggs gesê.

Inggs het gesê sy is nou spyt dat sy haar swaer verdedig het deur aan Jayde te sê “dinge sal beter word” en “Christopher werk hard”. Volgens Inggs was Jayde verbied om aan Christopher se selfoon te vat en hoewel sy nie bewus was van ʼn buite-egtelike verhouding nie, het sy Christopher se privaatheidsbeleid teenoor sy vrou bevraagteken.

Panayiotou word daarvan beskuldig dat hy die meesterbrein is agter Jayde se ontvoering en moord. Die staat voer aan hy het Luthando Siyoni, ʼn uitsmyter by sy Infinity-nagklub, betaal om Sizwezakhe Vumazonke as sluipmoordenaar te huur. Vumazonke is glo deur Nenembe bygestaan om die ontvoering en moord uit te voer. Sibeko is in Julie vanjaar in hegtenis geneem nadat hy deur sy selfoon verbind is met die saak. Hy was glo saam met Nenembe en Vumazonke by die kompleks waar Jayde ontvoer is.

Siyoni het intussen staatsgetuie geword en Vumazonke is vroeër vanjaar in aanhouding dood.

Die verhoor duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Andrea ·

Jy het sy kant gevat terwyl jy geweet het dat sy “ongelooflik alleen” was? Hoe werk dit?

Goeie suster ·

Dit maak juis van haar ‘n goeie suster om te ondersteun en te kyk of dinge nie beter raak nie, mens hol nie net uit na die 1 ste rusie of drama nie. Moenie vergeet ons weet nou almal wat gebeur het, sy het nie geweet wat hy regtig doen nie, sou hy eerlik wees en regtig gewerk het, sou dit ‘n goeie suster gewees het, want as die besighede goed doen, kan sy by die huis bly en hul kindertjies grootmaak. As Toni enigsins vermoed het van Coutts en sy streke sou sy dit beslis nie gedoen het nie, sy sou haar suster ondersteun het met – vat jou goed en trek. Jy kan duidelik deur haar hartseer en optrede sien, ek het haar uit my hart jammer gekry toe hul haar liggaam gevind het, hierdie meisie se lewe het onder haar uitgeruk.

Sam ·

Weet nie so mooi of kant vat die regte woord is nie Andrea, dink sy wou ook maar net vir Jayde beter laat voel oor die situasie en daarom volgens jou sy kant gevat. Onthou, die man was en is ‘n wolf in skaap klere.

Ek noem jou ook so ·

Ek is bly om te hoor jy lees wat oor jou gesê word. Terry Price ek sal jou ook ‘n vark noem as jy my dom noem, as jy my Pa uit die aarde stamp in die hof, die kameras was daar. Onthou Toni se suster is vermoor, sy is nie die verkeerde een hier nie, as jy nie so behandel wil word nie, werk met respek, respek verdien respek. Dan as Christopher nie hier wil wees nie, moes hierdie dinge nie gebeur het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.