Jayden ‘elke dag ʼn stap nader aan genesing’

Jayden Helberg in die hospitaal. Foto: Facebook

Jayden Helberg, die kleuter van Pretoria wat Donderdag kritieke beserings by sy skool opgedoen het, kan nou self asemhaal en het selfs al met fisioterapie in die hospitaal begin.

Jayden se ouers, Werner en Charlene, het op die Facebook-blad wat op die been gebring is om mense op die hoogte te hou van Jayden se vordering gesê Jayden kry nou net suurstof deur sy neus en is nie meer van ʼn asemhalingsmasjien afhanklik nie.

“Die dokters is tevrede en die susters sê hy doen goed deur die dag en nag. Hy het ook begin met fisio en kon ʼn klein bietjie regop sit. Die depressiestadium lyk of dit verbygaan. Mamma en Pappa het weer sy vertroue gewen, so [ons is] dankbaar. Dit is nie lekker om daardie kwaai gesiggie te sien nie. Elke daggie is ʼn stap nader aan genesing,” lui die inskrywing.

Maroela Media het vroeër berig Jayden het na bewering seergekry toe ʼn sementwasbak by sy skool op hom geval het. Werner wou egter nie Sondag meer besonderhede oor die ongeluk aan Maroela Media bevestig nie en het gesê hy en sy vrou wil nou eers op hul seun se herstel fokus.

Jayden is ná die voorval in die waakeenheid van ʼn hospitaal opgeneem. Een van sy longe het ná die ongeluk platgeval en hy het ʼn infeksie in dié long opgedoen.

Die Helberg-egpaar het Maandag ʼn video gedeel van Jayden wat in sy hospitaalbed inkleur en ewe self vir hom inkleurkryte uit die boksie kies. “Al die lof en al die eer kom U toe!” het sy ouers by die video geskryf.

“Vanaand kan mamma en pappa met ʼn geruste hart slaap. Dankie Jesus. Ons seuntjie gaan een van die dae weer besige Jayden wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.