Jayden weer tuis ná ongeluk by skool

Jayden Helberg (Foto: Facebook)

Jayden Helberg, die kleuter van Pretoria wat einde verlede maand kritieke beserings by sy skool opgedoen het, is uit die hospitaal ontslaan.

Werner en Charlene Helberg, Jayden se ouers, het dié nuus bevestig op die Facebook-blad wat vroeër verlede maand gestig is om mense op die hoogte te hou van sy vordering.

Volgens dié inskrywing is Jayden oor die naweek uit die hospitaal ontslaan. “Jayden is stil en rustig. [Ons] ken glad nie hierdie soet seuntjie nie,” het die egpaar geskryf.

Jayden het reeds einde November positiewe herstel getoon toe hy van ʼn asemhalingsmasjien afgehaal is. Hy het ook met fisioterapie begin, maar ʼn lang herstelpad staar hom nog in die gesig.

Volgens sy ouers kry hy nog nagmerries en moet hy ook weer ʼn doek dra.

“Ongelukkig kry hy steeds nagmerries, [maar hy] geniet dit baie om weer [in] mamma en pappa se kamer te slaap. [Hy] word deur [die] nag wakker en huil baie, [ons] kry hom so jammer. Hy is ook weer terug op die doek, maar [ons] weet [dit] sal met tyd regkom. [Ons] kan sien hy kry skaam as hy ʼn glipsie het. [Dis] so lekker om hierdie lyfie weer by die huis te hê.”

Maroela Media het vroeër berig Jayden het na bewering seergekry toe ʼn sementwasbak by sy skool op hom geval het. Sy ouers wou nie meer besonderhede oor die ongeluk aan Maroela Media bevestig nie en het gesê hulle wil eers op hul seun se herstel fokus.

Jayden is ná die voorval in die waakeenheid van ʼn hospitaal opgeneem. Een van sy longe het ná die ongeluk platgeval en hy het ʼn infeksie in dié long opgedoen.

Die Helberg-egpaar het Maandag almal wat bedank wat “sonder ophou” vir Jayden, hul “wonderwerkie”, bid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wow ·

Wow, ongelooflik hoe gou hy al so ver herstel het, bly positief, die kan net beter gaan van nou af. ‘n Sterk outjie, geniet die soet tyd, sy ou self gaan terugkeer en dan hou hy julle weer jonk en aan die hol.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.