Jayvan se kankerstryd: ‘Ons het alles verloor, behalwe geloof’

Jayvan Janse van Rensburg (Foto: Facebook)

Jayvan Janse van Rensburg (Foto: Facebook)

Eers is haar man in ʼn rooftog vermoor en toe word haar driejarige met beenkanker gediagnoseer. Die land was aangegryp deur dié verhaal, en die goeie nuus dat jong Jayvan begin aansterk, het soos ʼn veldbrand versprei.

Maar dit gaan nié goed met die Janse van Rensburg-gesin van Vereeniging nie, vertel Carin. “Nie omdat ons ondankbaar is nie en nie omdat ons nie God se genade kan raaksien nie,” verduidelik sy.

“Dit gaan goor. Ons is stukkend; verpletter. Ons het niks oor na dié jaar nie. Ek het alles verloor behalwe my geloof – my vrede, vriende, ondersteuners, geld, myself en selfs familie.

“Nou die dag is Jayvan weer in die hospitaal opgeneem. Die skroewe in sy bene het gebreek, en ons moes hoor dat hy weer geopereer moet word. Dié keer moet ons wag tot April en dit gaan na alle waarskynlikheid weer ʼn ses uur lange operasie wees. Jayvan gaan wéér in ʼn rolstoel wees en hy gaan wéér moet leer loop – dit alles voordat my pokkelpensie vyf jaar oud is.”

Dié skroewe het gebreek omdat Jayvan se liggaam te swaar geword daarvoor. Tydens die operasie in April sal nuwe plate en skroewe, reg vir sy liggaamsbou en gewig, ingeplant word. Dié operasie sal na alle waarskynlikheid nog drie keer herhaal moet word voordat hy 21 jaar oud is.

Jayvan het Dinsdag vier jaar oud geword. Vanjaar kon hy ʼn verjaardagpartytjie weg van die hospitaal hê en selfs koek eet, maar Carin vertel dié vreugde word oorskadu deur bekommernisse.

Jayvan Janse van Rensburg (Foto: Facebook)

Jayvan Janse van Rensburg (Foto: Facebook)

Dokters het immers aan die gesin gesê hy klein Jayvan sal as gevolg van sy soort kanker nooit werklik in remissie wees nie; elke hoes, elke skeet en elke uitslag sal vir die res van sy lewe ondersoek moet word.

“Ons is dankbaar, want die gewas is weg. Maar ons kan nooit sê die kanker is weg nie want dis nie waar nie. Dis iets wat vir my altyd oor ons koppe gaan hang – ʼn vrees wat vir die res van ons lewe by ons ingeboesem gaan wees.

“Ek het verlede jaar ná die chemoterapie-behandelings besluit dis verby met chemo. Êrens moet jy vir jou kind ʼn lewe gun en ruimte om te speel. En ons het gehoop dinge sal beter gaan – maar in baie aspekte is dit nie die geval nie.”

Carin vertel sy neem in dié stadium elke dag soos dit kom. “As ek kyk wat só ʼn stryd aan ander mense gedoen het, is ek dankbaar dat ek my kind by my kan hê. Ek is ook dankbaar dat hy sy been kon behou en nie sy hele lewe lank in ʼn rolstoel gekluister te wees nie. Mense skei, mense verloor alles; en die ergste is dat jy vergeet word. Dít breek ʼn ma se hart.”

Sy sê die familie kan in dié stadium nie finansieel kop bo water hou nie as gevolg van die enorme uitgawes. Sy het ook vyf ander kinders na wie omgesien moet word wanneer sy heen en weer vlieg vir Jayvan se operasies, en het baie mediese en reisonkoste.

“As daar ʼn pappa was, was dit anders. Maar ons sukkel. En dit is moeilik om die positiewe raak te sien wanneer jy so sukkel. In dié stadium weet ons nie of ons sink of swem nie. Wat ek wel hoop, is dat ons eendag hierna sal terugkyk met dankbaarheid dat die Here ons deurgedra het,” vertel sy.

Maroela Media het destyds berig Jayvan se pa, Anton (52), is op 12 Augustus naby sy huis in Drie Riviere, waar hy en sy gesin skaars twee weke tevore ingetrek het, deur gewapende rowers oorval en geskiet. Die skietery het gevolg nadat Anton een van sy seuns en hul twee huiswerkers te hulp gesnel het toe hulle deur dieselfde groep mans in die huis aangehou en beroof is.

Besoek Support Jayvan Janse van Rensburg op Facebook vir meer besonderhede oor Jayvan se trust-fonds.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Middelburger ·

Ai toggie! Mens het nie woorde nie. Kan nie verstaan hoekom moet kinders so ly nie..

francis ·

Jesus se: laat die kindertjies na my toe kom.. So glo net dat Jesus met hom sal wees.

Andrea ·

Ai Carin, my hart gaan uit na jou. Mag daar gou weer sonskyn dae vir jul aanbreek!

Yolandi ·

Die mooiste seuntjie. Mens verstaan nie altyd hoekom die dinge gebeur nie. Wens ek kan julle ‘n stywe drukkie gee. Wens ek het sakke vol geld gehad dat ek kon help en als beter maak. Ek sal bid vir julle en daai mooi engeltjie-seuntjie van jou. Baie liefde

wilma ·

Ek is ongelukkig nie op FB nie. Rekeningbesonderhede vir bydraes asb.?

Gebroke mamma ·

Hartseer verhaal. Ons het nou wel nie finansieël gestruikel nie, maar ek sou veel eerder nog my seuntjie by my wou hê. My seuntjie is na ‘n 21 maande stryd met Rhabdomayo sarcoma oorlede. 12 jaar oud. Die hel wat hy en ons deurgemaak het, word geen ouer toegewens nie. Dis waar dat al is ‘n kind in remissie, die volgende 5 jaar ten minste ook hel sou wees. My kind is veilig by Jesus, maar ons wat agterbly kry swaar.

Kan daar nie ‘n fonds vir die gesin gestig word nie?

Yolandie ·

My hart gaan so uit na hierdie moedige vrou en haar kinders.Sy het dringende finansiele ondersteuning nodig. Haar verantwoordelikhede is enorm, sy maak n span boerekinders groot!
Op Henneman het daar hierdie week n dame 26 Miljoen Rand gewen met n PowerballPus. As iemand haar ken wat hier lees, wil jul haar nie vra om hierdie mamma finansieel te help nie? Dit is vir haar moontlik.
Ek wens ek kon!! Hierdie is my poging.

Odette ·

Kom ons bid heelhartig almal saam dat die Here in iemand wat finansieel kan help se hart werk om dit te doen! Hierdie is een van die moedigste vroue wat ek nog van gehoor het!Ons moet help!

nhk ·

Het begrip vir julle probleem. My man is oorlede aan kanker. Finansieel het daar niks oorgebly vir my om van te leef.

wilma ·

“Gebroke Mamma” ek sien in die artikel daar is ‘n trustfonds. Ekself het nie toegang tot Facebook nie en sal dit waardeer indien iemand kan help met bankbesonderhede.
Baie dankie by voorbaat.

Francis ·

Mag Jesus hom aanraak en volkome genees. en ook vir jul fienansieéle hulp op jul pad sit !!!
sterkte bid vir julle

Daleen ·

Nadia. Volgens my kennis is me. Janse van Rensburg weer getroud. Kan Maroela Media asb vir lesers inlig wanneer die onderhoud gedoen is?? En waarom skep me Janse van Rensburg dat sy steeds “alleen-ouer” is?? KOMMERWEKKEND!

Leonora ·

Ek volg julle seer geruime tyd. Ek het lanklaas so ‘ moedige mamna en seun gesien. Jy Mamma is ‘n voorbeeld vir baie xxx Mag God jou toerus met al die krag wat jy mag nodig hê en vir Pokkelpensie deurtrek met genade en gesondheid. Mag goedheid en guns julle volg…. elke dag.

Susan Pietersen ·

Carin, ek kry trane in my oë as ek die outjie sien. Ek bid so hard vir jou en vir hom, mag Liewe Jesus sy hand van genesing oor hom streel. Ek dink aan julle en hoop daar sal weer sonskyn dae vir julle wees.

Christel ·

OMW! Wat op dees aarde het “of sy weer getrou het” “enkel ouer” “kommerwekkend” te doen met die artikel? Sy kon 5 keer weer getrou het, wat maak dit saak? Die pa van haar kinders is dood, dws sy is indirek n enkel ouer. Ai ons mensdom darem.

wilma ·

Na twee versoeke sowel as ‘n e-pos aan beskikbare adres, het ek geen reaksie ontvang omtrent bankbesonderhede nie. Waar mede-lesers bid en bemoedig, wou ek so graag ‘n geldjie gee, maar skynbaar is dit nie meer nodig nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.