JC Ritchie struikel, maar hy val nie

(Foto: JC Ritchie/Facebook)

Die Suid-Afrikaner JC Ritchie het die laaste ronde van die Jonnson Workwear Ope by die Durban-buiteklub met ʼn voorsprong van tien houe afgeslaan. Maar gholf is ʼn onvoorspelbare spel. Selfs met ʼn reuse-voorsprong kan sake skeefloop.

Nadat dit voëltjies gereën het in sy eerste drie rondes, moes hy vasklou om net gelyk aan syfer te bly. Intussen het die Belg Christopher Mivis (-20) die baan aan die brand gespeel en in ʼn stadium het Ritchie se voorsprong tot net twee houe gekrimp.

Mivis se ronde van 66 houe het ses voëltjies en ʼn arend ingesluit, maar brouhoue op die 17de en 18de het sy doppie geklink. Daarenteen het Ritchie (26) voëltjies op die 17de en 18de aangeteken om steeds met ses houe te wen.

Haraldur Magnus (-19) van Ysland was derde nadat hy ook sy laaste ronde in 66 houe voltooi het.

Ritchie het verlede week ook die Bain’s Whisky Kaapstad Ope gewen.

By die Honda Classic in Florida op die Amerikaanse PGA-toer het die Amerikaner Daniel Berger (-11) ʼn voorsprong van vyf houe ná die derde ronde.

Nog ʼn Amerikaner, Chris Kirk (-6), is in die tweede plek saam met die Ier Shane Lowry, die Amerikaner Kurt Kitayama en Sepp Straka van Oostenryk.

Die Suid-Afrikaner Dylan Frittelli (-2) is in die gesamentlike sewende plek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.