Jeanne Goosen sterf op 81

Jeanne Goosen, die vrou wat as een van Suid-Afrika se veelsydigste skrywers beskou word, is Woensdag in die ouderdom van 81 in haar huis in Melkbosstrand dood.

Goosen was bekend vir haar werk as skrywer, joernalis, digter en dramaturg.

“Jeanne was benewens haar verbysterende skryftalent en haar ongeëwenaarde verbeeldingskrag ook ʼn komplekse, maar wonderlike mens,” het Lizz Meiring in ʼn roerende inskrywing op Facebook gesê.

“Mense besef nie hoe slim Jeanne was nie,” sê Meiring. “’n Gekwalifiseerde radiografis, ʼn konsertgehalte pianis, ʼn filosoof, ʼn aktivis, ʼn kreatiewe genie.”

Goosen het in 1971 gedebuteer met die digbundel ʼn Uil vlieg weg en daarna het gevolg Orrelpunte (1975), Elders aan diens (2007) en Het jy geweet ek kan toor (2020).

Sy is ook die skrywer van onder meer  ʼn Kat in die sak (1986), Ons is nie almal so nie (1990), Drie eenakters (Kombuis-blues, Kopstukke en ’n Koffer in die kas) (1992) en ʼn Pawpaw vir my darling (2002). Sy het in 1990 die CNA- en Rapport-prys en in 1991 die M-Net-prys vir Ons is nie almal so nie gewen. In 1992 is Drie eenakters met die Rapport-prys bekroon.

Die rolprentweergawe van ʼn Pawpaw vir my darling is in 2015 uitgereik. Koos Roets was die regisseur en die fliek is deur André Scholtz vervaardig.

“Sy terg met die Afrikaner, sy terg met die taal en sy terg almal op so manier dat niemand aanstoot kan neem nie,” het Roets oor dié teks gesê.

Goosen is in 2009 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer met ’n eeufeesmedalje vir haar baanbrekerswerk in die kunste.

Vroeër vanjaar het die biografie Jeanne Goosen: ʼn Lewe vol sinne verskyn, geskryf deur Petrovna Metelerkamp en uitgegee deur Hemel & See Boeke .

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

BFJ ·

Hartseer, baie hartseer nuus op hierdie wintersdag in Junie. Sy was die enigste formidabele Jeanne Goosen. Sy sal altyd bly voortleef deur haar letterkunde en haar intense menswees wat sy was. Rus in Vrede.

Jannie van Niekerk ·

Jeanne Goosen was na my mening ‘n uitstekende skrywer. Ek het al haar werke gelees en herlees en elkeen van dit elke keer baie geniet. Mag jy in vrede rus Jeanne.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.