Jeffreysbaai-huisrowers in ʼn japtrap vas ná hoëspoedjaagtog

Argieffoto: SAPD / Facebook

Argieffoto: SAPD / Facebook

Twee verdagtes is Woensdag in die vroeë oggendure in ʼn japtrap in hegtenis geneem nadat hulle ʼn 69-jarige vrou van Jeffreysbaai in die Oos-Kaap oorval en beroof het.

Ao. Gerda Swart, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê drie mans het omstreeks 02:00 op die vrou se huis in Paradise Beach toegeslaan. Die verdagtes het verskeie waardevolle besittings, waaronder selfone, kontant en juwele, gesteel en in die slagoffer se rooi KIA Picanto gevlug.

“Die slagoffer het die polisie gebel en inligting oor die gesteelde motor is onmiddellik tussen die omliggende polisiestasies gesirkuleer,” het Swart gesê.

Op-en-wakker-beamptes van die Humansdorp-misdaadvoorkomingseenheid was op patrollie op die R102 toe hulle omstreeks 03:00 die motor opgemerk en agterna gesit het.

“Ná ʼn hoëspoedjaagtog kon hulle daarin slaag om die motor van die pad af te trek. Die verdagtes het te voet probeer vlug. Die polisie het twee van hulle in hegtenis geneem. Die derde verdagte kon daarin slaag om te ontsnap.”

Swart het gesê die soektog na die derde verdagte duur voort. Sy het gesê die slagoffer is ongedeerd, maar getraumatiseerd.

Die Jeffreysbaai-polisie ondersoek ʼn saak van huisroof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

anet ·

Baie dankie aan die Beamptes van Humansdorp-misdaadvoorkomingseenheid. Julle is baie dapper en ons is almal trots op julle, en bly dat julle hulle vinning vasgetrek het. Welgedaan

johannes fourie ·

We’ll gedaan manne ons nodig julle hier in Gauteng

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.