Jemen-gyselaars vrygelaat: “Ons bid en hoop dis Pierre”

'n Argieffoto van Pierre Korkie en sy gesin. Foto: Gift of the Givers

‘n Argieffoto van Pierre Korkie en sy gesin. Foto: Gift of the Givers

Die moontlikheid word ondersoek dat Pierre Korkie, die Suid-Afrikaner wat op 27 Mei 2013 in Taiz, Jemen ontvoer is, dalk vrygelaat is.

Reuters berig dat veiligheidsmagte in Jemen agt gyselaars bevry en sewe Al-Kaïda-ontvoerders doodgeskiet het. Die land se hoogste veiligheidskomitee het in ʼn verklaring, wat op die nuusagentskap Saba gepubliseer is, die nuus bekend gemaak. Volgens die verklaring is sewe Jemen-gyselaars en een buitelandse gyselaar vrygelaat. Die komitee het egter nie die nasionaliteit van die buitelandse gyselaar wat bevry is, bekend gemaak nie en ook nie gesê waar die voorval plaasgevind het nie.

Imtiaz Sooliman, hoof van Gift of the Givers, het Dinsdagoggend aan Maroela Media gesê hulle probeer vasstel of Korkie een van die gyselaars is wat bevry is. Sy organisasie is betrokke by die soektog na Korkie en het onder andere vroeër met sy beweerde ontvoerders onderhandel vir sy vrylating.

André Venter, ’n Bloemfonteinse sakeman wat gehelp het om geld vir Korkie se vrylating in te samel, het aan Maroela Media gesê hulle het nog geen inligting ontvang nie. “Ons is partykeer die laaste mense om te hoor as daar iets gebeur, aangesien dit eers intern hanteer word. Ons bid en vertrou en hoop daar is nuus. Ons weet daar sal uitkoms wees.”

Korkie is al ʼn jaar en ʼn half in aanhouding nadat hy en sy vrou, Yolande, op dieselfde dag in Taiz ontvoer is. Yolande is op 10 Januarie vrygelaat nadat die Gift of the Givers haar vrylating onderhandel het.

Korkie se ontvoerders het vroeër ʼn losprys van $3 miljoen (ongeveer R32 miljoen) vir sy vrylating geëis.

Klik hier vir vorige berigte oor die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

anet ·

Ons hoop en bid saam met die gesin dat dit Pierre is wat vrygelaat is.

Cindy ·

Ek bid regtig baie hard dat hy een van die is wat vrygelaat is.

Oom Koos ·

Ek deel jul sentimente maar ek hoop regtig mense sal eers hul huiswerk deeglik doen voordat hulle na oorwegend Moslem-lande soos Jemen gaan waar Christene aktief vervolg en doodgemaak word.

Justice ·

Nee hy is nie vrygelaat nie. SIEN fox news se berig – die 8ste persoon is n Militere raadgewer

annatjie ·

Ons glo en vertrou dat Pierre die buitelander is wat vrygelaat is. Sterkte vir sy familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.