‘Jesus kyk na my,’ sê tiener ná ongeluk by skool

Tryston Jansen van Vuuren is Maandag ernstig beseer toe ʼn groot buiteband by die Hoërskool Dr. EG Jansen in Boksburg op hom geval het. (Foto: Verskaf)

As Tryston Jansen van Vuuren (14) se held, die Amerikaanse waaghals Travis Pastrana, al elke been in sy liggaam kon breek en stééds daarna motorfiets ry, kan hy dit mos ook doen.

Om weer op sy Suzuki RM85-veldmotorfiets te ry is waarna dié tiener, wat tans met ʼn gebreekte pelvis in ʼn Johannesburgse hospitaal lê, die heel meeste uitsien.

Tryston is Maandag ernstig beseer toe ʼn groot buiteband by die Hoërskool Dr. EG Jansen in Boksburg op hom geval het. Hy en ʼn groep maats was besig om met dié band te speel.

Volgens sy pa, Jan, het Tryston sy pelvis en die been bó sy stuitjie tydens die ongeluk gebreek. Hy het ook werwels in sy rug gekraak en moet tans ʼn nekstut dra.

“Hy is Maandag geopereer en gaan vandag weer teater toe. Dit lyk of hy nog sowat ses tot agt weke in die hospitaal sal wees.”

Volgens Jansen van Vuuren is sy seun egter baie positief en vol grappe.

Tryston sal tussen ses en agt weke in die hospitaal deurbring. (Foto: Verskaf)

“Hy is ʼn masjien. En deur alles is hy so gelowig. Hy sê heeltyd ‘my Koning Jesus kyk na my, pa’.

“Tryston bemoedig ons deurgaans terwyl dit eintlik andersom moet wees. Hy is regtig my held.”

Tryston het nie ʼn bang haar op sy kop nie en wil net weet wanneer hy weer op sy motorfiets kan klim.

“Hy is baie lief vir ekstreme sport en is baie goed daarin. Hy ry al van tweejarige ouderdom af motorfiets.

“Ons besef daar lê heelwat genesing voor, maar Tryston is baie gemotiveerd.”

Tryston se ouers koester geen kwadegevoelens teenoor die skool oor wat gebeur het nie.

Tryston is lief vir ekstreme sport. (Foto: Verskaf)

“Dit was ʼn fratsongeluk. Die kinders moes nie daar gespeel het nie en die band moes nie daar gelê het nie.

“Die personeel en ER24 was uiters behulpsaam en het baie vinnig gereageer om te help. Ek dank die Here die band het nie op sy bors geval nie, dan kon dit dalk baie erger gewees het.”

Jansen van Vuuren sê voorts die skool en Tryston se maats bemoedig hom baie.

“Die skool het vir hom ʼn kreet op video opgeneem en sy maats bel hom gereeld. Hulle ondersteuning maak ʼn groot verskil.

“Hy speel ook lekker op sy foon. Dit hou hom besig. Hy vlieg deur data soos hy speletjies aflaai,” skerts Jansen van Vuuren.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Skappie ·

Sterkte Tryston. Mag onse Liewe Jesus jou sommer vinnig beter en gesond maak.

Wielspore ·

Uit die aard van jong seuns se optrede maak hulle gewoonlik familie geskiedenis. Sterkte aan Tryston met die herstel en nou is die tyd om daardie Suzuki te ruil vir ‘n Yamaha.

Swerwer ·

Wat ‘n progtige jong seun en ‘n voorbeeld vir so baie van ons! “Jesus se soldaatjie, ja Meneer!

Marlene ·

Sterkstaan jongman, mag jy ten volle herstel sodat jy weer kan doen waarvoor jy lief is.

Casper ·

Sterkte jong man.Jy het die regte GENEEEER aan jou sy.Die dokters is net instrumente in Sy hande.

modiglianigirl ·

Ha-ha-ha dit is presies wat ek gister gesê het.
Waaghalse, my tiener seun maak my óók grys mebekommernis.
Dankie tog dat Tryston Jansen van Vuuren oppad na herstel is.
En dankie tog dat liewe Jesus ons seuns beskerm.

TO ·

Soveel positiwiteit, mooi so seun, Jesus is jou beskermer en geneesheer. Bid jou spoedige herstel toe.

Gert K ·

Sterkte Boeta! Ek het self so woelwater wat gereeld beserings opdoen.
Met jou sterk Geloof is jy een van die dae weer op jou Suzuki !
Ek gaan saam met julle bid !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.