Jhb-burgemeester besorg oor vervalste goedere

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg (Foto: Itumeleng English/African News Agency (ANA))

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het Dinsdag gesê hy is besorg oor fabrieke oor Johannesburg heen wat steeds vervalste goedere vervaardig.

Mashaba het tydens die vrystelling van die maandelikse misdaadstatistiek gesê die Johannesburgse metropolisie behaal suksesse in ander aspekte van wetstoepassing, insluitend om te verhoed dat vervalste goedere op die straat beland.

“Buiten vervalste goedere soos klere en skoene, het misdadigers nou ook begin om vervalste medikasie, insluitend antiretrovirale medikasie en Panado begin vervaardig. Om die waarheid te sê, ons Johannesburgse metropolisiebeamptes, tesame met hul eweknieë in Tshwane, Ekurhuleni en die res van Gauteng, het twee laboratoriums in Fordsburg en Jet Park in die ooste van Johannesburg se deure gesluit,” het Mashaba gesê.

“Ek was verbaas om uit te vind dat die laboratorium in Fordsburg hom voorgedoen het as ʼn eierfabriek. Binne net twee jaar was JMPD deel van wetstoepassingspogings wat vervalste goedere met ʼn straatwaarde van R250 miljoen gekonfiskeer het. Beamptes het ʼn paar weke gelede beslag gelê op vervalste goedere ter waarde van byna R80 miljoen uit slegs een gebou in die middestad.”

Mashaba het gesê die geld wat deur dié vervalste goedere gegenereer word, word aangewend vir selfs erger misdade soos ontvoering en mensehandel deur die onwettige vervoer van ongedokumenteerde persone in Suid-Afrika en dan teen hul wil aangehou word in dié onwettige fabrieke en pakhuise.

Hy het bygevoeg vervalste goedere het ʼn negatiewe impak op die land en kan voornemende buitelandse beleggers afskrik, omdat geen geloofwaardige maatskappy sal wil belê in ʼn land waar sy intellektuele eiendom nie beskerm kan word nie.

“Die meer as R80 miljoen se vervalste goedere beteken ook ʼn ongelooflike verlies aan die land se fiskus in verlore belasting. Dit laat mens wonder hoe dié goedere die land se grensposte en doeaneagentskap ontglip het.”

Vervalste goedere beteken ook dat Suid-Afrikaners ontneem word van poste. “Die realiteit is dat die vervaardigers van dié vervalste goedere nie Suid-Afrikaners in diens neem nie. In ʼn land soos ons sʼn, wat ʼn werkloosheidskrisis beleef en gevolglik ongelykheid en toenemende misdaad, is dit jammer dat die nasionale regering skynbaar tevrede is daarmee om te versuim om beslissend op te tree.”

Die departement van openbare veiligheid in Johannesburg stel sedert September vanjaar maandelikse statistiek saam. Die statistiek in November het bevind die grootste oortreders is dronkbestuurders. Meer as 800 inhegtenisnemings vir dronkbestuur is in November gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Henk du Toit ·

Raak ontslae van al die verbode immigrante en monitor alle immigrante. Dit sal die probleem oplos en meer werkgeleenthede skep vir ons eie mense.

zoom zoom ·

Ek as inwoner van Tshwane is bekommerd oor die swak diens wat ons in Pretoria kry van die stadsraad.

sus ·

Mnr. Mashaba, vir 24 jaar is die onwettige immigrante toegelaat in ons land om te maak nes hul wil, ek waardeer jou pogings maar dit gaan jare vat voor hierdie probleme opgelos kan word.
En die enigste manier is om die onwettige immigrante terug te stuur na hul land van oorsprong en ons grensposte te sluit!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.