Jhb-busongeluk: Derde persoon sterf

Reddingswerkers besig om passasiers te help.

Reddingswerkers besig om passasiers te help.

ʼn Derde persoon is dood nadat twee busse Vrydag reg van voor gebots het in Jan Smutsrylaan in Johannesburg.

Chitra Bodasing, woordvoerder van ER24, het bevestig dat ʼn derde persoon dood is. Volgens Eyewitness News is die vrou kritiek beseer in die botsing en is sy in die hospitaal dood. Twee Metrobusse, waaronder ʼn dubbeldekkerbus, het omstreeks 07:00 Vrydagoggend in Saxonwold gebots. Die bestuurder van een van die busse en ʼn vrou wat ses maande swanger was is in die botsing dood.

Minstens 64 mense is in die ongeluk beseer. Die bestuurder van die ander bus is ernstig beseer. Sy toestand is glo kritiek.

Ooggetuies het Vrydagoggend se ongeluk as “gruwelik” beskryf. “Mense het geskree en gehuil. Ek het verby die busse geloop en het die bestuurder se hand sien uitsteek,” het ʼn vrou, wat anoniem wou bly, gesê.

“Ek was geskok toe ek sien wat gebeur het. Daar was ʼn paar mense bo in die bus. Iemand het ʼn vrou gehelp om deur ʼn venster van die bus te kom,” het die ooggetuie gesê.

Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, het gesê die oorsaak van die ongeluk word ondersoek. Nana Radebe, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, het gesê die swanger vrou het bo in die bus gesit. Sy is ernstig beseer en is later in die hospitaal oorlede.

News24

Klik hier om foto’s en ʼn video van die toneel te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.