Jhb-buurte in donkerte gehul ná brand by substasie

Brand by Cleveland-substasie (24 Desember 2019) (Foto verskaf deur City Power)

City Power stel ondersoek in na die oorsaak van ʼn brand op Oukersaand by sy Cleveland-substasie in Johannesburg.

Verskeie woonbuurte, in die ooste van Johannesburg, is Dinsdagaand in donkerte gehul toe ʼn 88/11KV-transformator gebrand het. Dié woonbuurte sluit Kensington, Jeppestown, Malvern, Heriotdale, Denver en Benrose in.

“Die brand is Woensdagoggend vroeg geblus en opruiming het reeds begin,” het Isaac Mangena, woordvoerder van City Power, gesê. “Herstelwerk sal egter na verwagting eers Donderdag afgehandel wees en kragtoevoer behoort op Donderdag teen 19:00 herstel te wees.”

City Power se span ondersoekers en tegnici probeer die omvang van die skade en die oorsaak van die brand bepaal. “Die ondersoek sal ook die koste van herstelwerk en vervanging van die beskadigde toerusting insluit. ʼn Nuwe transformator kos na raming tussen R12 miljoen en R16 miljoen.”

Mangena het gesê hulle versoek verbruikers om geduldig te wees terwyl die ondersoek en herstelwerk voortduur. “Ons vra om verskoning vir enige ongerief wat veroorsaak word, veral op Kersdag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.