JHB-dieretuin ondersoek aankope van wildsbokke

'n Sitatunga-wildsbok. Foto: Wikimedia

‘n Sitatunga-wildsbok. Foto: Wikimedia

City Parks in Johannesburg sal ondersoek instel om te bepaal hoe agt Sitatunga-wildsbokke van die Praag-dieretuin in die Tsjeggiese Republiek onwettig na Suid-Afrika gebring is.

Die wildsbokke het sonder die nodige papierwerk hier opgedaag en die Dierebeskermingsvereniging (DBV) moes hulle later van kant maak omdat hulle ontwater, beseer en getraumatiseer was.

Die Johannesburgse dieretuin se akkreditasie by die Wêreldvereniging van Dieretuine en Akwariums (Waza) is intussen opgeskort. Jenny Moodley, woordvoerder vir Johannesburg City Parks and Zoo, het gesê die dieretuin se akkreditasie is ook tydelik by die Afrika-vereniging van Dieretuine en Akwariums (Paazab) opgeskort.

City Parks het Waza in kennis gestel dat hy die dieretuin in Praag genader het vir inligting oor die aankope van die wildsbokke. Die dieretuin wou tot dusver egter nog nie enige dokumente met die dieretuin deel nie. Die dieretuin het intussen PricewaterhouseCoopers (PwC) aangestel om die inligting te bekom en te bepaal of enigiemand sonder toestemming die transaksie namens die Johannesburgse dieretuin onderhandel het. “PwC is aangewys om ‘n onafhanklike oudit te doen,” het Moodley bygevoeg.

Sy het gesê die dieretuin sal steeds met sy bedrywighede voortgaan, maar kan nie enige ander diere van ander dieretuine aankoop totdat sy akkreditasie weer ingestel is nie.

City Parks het op 7 Augustus gesê hy het nie met die Praag-dieretuin onderhandel oor die aankope van die agt wildsbokke nie. Die Johannesburgse dieretuin het ingestem om sy geakkrediteerde kwarantyn-fasiliteite beskikbaar te stel vir wanneer die bokke in Suid-Afrika aankom. “Die fasiliteit word juis gebruik weens sy nabyheid aan OR Tambo Internasionale Lughawe,” het City Parks in daardie stadium in ‘n verklaring gesê. Die wildsbokke het egter sonder die nodige papierwerk, veral in terme van dokumentasie oor die schmallenberg-virus, opgedaag en die departement van landbou, bosbou en visserye wou die diere terugstuur. Lufthansa-lugredery was namens Duitsland egter nie bereid om die diere te aanvaar nie.

City Parks het gesê die departement het op 3 Augustus die besluit geneem om die diere van kant te maak omdat hulle in so ‘n swak toestand was.

Die Johannesburgse dieretuin hou vol hy het nie probeer om die wildsbokke onwettig in te voer nie en onderskryf die beginsels van Waza en Paazab, het Moodley gesê.

Lees ook:
Wildsbokke uitgesit weens onwettige vervoer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.