Jhb-finansies-raadslid die trekpas gegee

Herman Mashaba (Foto: ANA)

Rabelani Dagada, die Johannesburgse burgemeesterskomiteelid van finansies, is geskors hangende ʼn ondersoek na bewerings van onbehoorlike beïnvloeding en nepotisme.

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het in ʼn verklaring gesê hy het in samewerking met die DA se federale uitvoerende komitee die besluit geneem om Dagada uit sy pos te onthef.

Volgens Luyanda Mfeka, die burgemeester se woordvoerder, is Dagada deur die party se federale uitvoerende komitee geskors hangende ʼn ondersoek deur die DA se federale regskommissie.

Mfeka het gesê die ondersoek kom nadat mediaberigte einde verlede jaar verskyn het waarin beweer is dat Dagada betrokke was by ernstige aktiwiteite van onbehoorlike beïnvloeding en nepotisme.

“Ek het dadelik ʼn forensiese ondersoek deur ʼn eksterne maatskappy van stapel gestuur wat die afgelope Vrydag voltooi is,” het Mashaba gesê.

Die ondersoek het volgens Mashaba getoon dat Dagada die stad se gedragskode oortree het deur nie sy belange te verklaar nie en gevolglik ook nie botsing van belange met individue wat na aan hom is te verklaar nie.

Die ondersoek het ook bevind dat Dagada betrokke was by prysvasstelling met ʼn diensverskaffer van die stad. “Hy het in die proses sy geswore plig teenoor die inwoners oortree. Uit die ondersoek is dit duidelik dat Dagada op ʼn manier opgetree het wat diensverskaffers en beamptes na aan hom bevoordeel het.”

Mashaba het ook gesê ʼn “onvergeeflike element van die onbehoorlike beïnvloeding” hou verband met druk wat op beamptes geplaas is om verkrygingsooreenkomste te magtig om persone na aan Dagada te bevoordeel. “Ek is trots om te sê die beamptes was ferm en het geweier om te doen wat hulle geweet het verkeerd was,” het Mashaba gesê.

Die stad het intussen dissiplinêre stappe teen die geïmpliseerde beamptes ingestel. “Alhoewel dit met spyt gedoen word, sal die stad se pogings om weg te doen met oortreders nie die beskerming van ons eie beamptes insluit nie.”

Mashaba het bygevoeg dat hy strafregtelike klagte teen Dagada sal lê, asook ʼn klag by die etiekkomitee van die raad.

Mashaba het ook sy dankbaarheid teenoor joernaliste uitgespreek vir die ontbloting van die saak.

Mashaba het Funzela Ngobeni, burgemeesterskomiteelid van ontwikkelingsbeplanning, na die pos van burgemeesterskomiteelid van finansies geskuif en Reuben Masango in Ngobeni se plek aangetel. Masango is tans proporsionele raadslid vir wyk 36 en 38 in Soweto.

“As burgemeester kan ek nie voorspel wanneer mense by betreurenswaardige aktiwiteite betrokke gaan raak nie. Ons sal egter aanhou om te verseker dat alle oortredings ten koste van ons inwoners nie ongestraf verbygaan nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SjN ·

Mooi so, jaag weg,daar is baie gekwalifiseerde amptenare wat die werk kan en wil doen.

snoefie ·

due ondersoek het twee weke geduur. hoekom neem anc indersoeke maande en soms self jare?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.