Jhb gaan Telkom se kragtoevoer sny

Byna ʼn kwart van alle Suid-Afrikaanse huishoudings maak op ʼn maatskaplike toelaag staat as hul hoofbron van inkomste.

(Foto: Unsplash)

Verskeie sake- en residensiële kliënte in Johannesburg se ligte is vandeesweek deur City Power afgesit ná dié glo vir maande al versuim om hulle elektrisiteitsrekeninge te betaal. Dit sluit Telkom in.

Twee hospitale kan ook dalk binnekort sonder krag sit omdat hulle saam ongeveer R30 miljoen aan die kragvoorsiener skuld.

“Optrede teen wanbetalende en nie-betalende kliënte in Johannesburg is in volle swang,” sê Isaac Mangena, woordvoerder van City Power.

Hy sê verskeie gebiede wat deel van die Hurst Hill-diensleweringsentrum vorm en wat meer as R1,3 miljard aan City Power skuld, se kragtoevoer is vandeesweek afgesny.

“Ons het Donderdag tien sake‑ en residensiële kliënte geteiken wat in totaal meer as R13 miljoen in onbetaalde elektrisiteitsrekeninge skuld.

“Telkom is een van die besighede wat tydens die operasie van elektrisiteitvoorsiening ontkoppel is, hulle skuld meer as R2,9 miljoen. Dit is skokkend dat die maatskappy sedert 2021 geen betalings vir hul elektrisiteitsrekening gemaak het nie,” sê Mangena.

Ancient Oak Trade & Invest is nog ʼn onderneming waarvan die kragtoevoer afgesny is. Die onderneming bedryf ʼn  kroeg in Melville en skuld meer as ʼn miljoen rand in onbetaalde elektrisiteitsrekeninge.

“Daar is ook bevind dat dié kliënt kragtoevoer onwettig gekoppel het. As gevolg daarvan sal ʼn swaar straf toegedien word voordat hulle weer van elektrisiteit voorsien word,” sê Mangena.

“Binne minder as ʼn uur ná ons die kragtoevoer afgesny het, het die eienaar van die besigheid City Power gekontak en erken dat hulle versuim het om hul kragrekeninge te betaal. Hulle het ingestem om die skuld op die rekening te vereffen en die boete vir onwettige herverbindings te betaal.”

City Power-amptenare het ook ’n besoek aan twee hospitale afgelê, naamlik die Helen Joseph-hospitaal en die Rahima Moosa-moeder-en-kind-hospitaal, wat gesamentlik meer as R30 miljoen skuld.

“Die Helen Joseph-hospitaal se skuld is meer as R23 miljoen, terwyl die Rahima Moosa-moeder-en-kind-hospitaal meer as R7 miljoen skuld.

“Die uitvoerende bestuurders van die twee hospitale, wat vooraf ʼn kennisgewing vir die beëindiging van hul kragtoevoer ontvang het, het aan City Power-amptenare gesê dat hulle reeds met die proses begin het om hul skuld te vereffen,” sê Mangena.

“Tydens ons besoek het ons dit duidelik gemaak dat indien hulle versuim om binne die volgende twee weke te betaal, dit onmiddellike ontkoppeling van hul kragtoevoer tot gevolg sal hê.”

Mangena sê City Power is uiters bekommerd oor die vlakke van wanbetaling by staatsinstellings.

“Staatseiendomme reg oor die stad skuld meer as ’n halfmiljard rand.

“Ons sal alle wanbetalers vastrek en ons inkomste-invordering verskerp. Ons wil ook ander kliënte maan om hul rekeninge betyds te betaal voordat ons ʼn onaangename besoek aflê.”

Mangena sê die weeklikse afsny-operasies reg oor Johannesburg is daarop gemik om ʼn sterk boodskap aan wanbetalers te stuur dat City Power nie wanbetaling sal duld nie.

“Dit is ook ’n geleentheid vir City Power om die inkomste te verhaal wat nodig is om voort te gaan om noodsaaklike dienste aan die stad se inwoners en besighede te lewer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Lourens ·

Terwyl Brink nou reeds op die oorlogspad is, moet hy dalk dieselfde begin doen hier in Pretoria. Dan kan CoT ten minste deel van hulle agterstallige rekening vereffen – indien nie sommer die hele een nie.

Wondermaarnet ·

Ek wil sien hoe dit gebeur. Die mense maak ‘n reëling om te betaal, krag en fone bly aan en dan word daar nie betaal nie en die sirkel begin maar weer. DOEN wat jul sê jul gaan doen en sny krag af!

Amelia ·

Ja en die kroegeienaar sal nie weer onwettige koppeling he nie hys mos te “eerlik” ai jparty van ons betaal ander se skuld kan maar miljoen beloop maar ons krag wal sekerlik gesny word vir r100

Piet ·

Uiters lagwekkend.
Maar as hulle my verkeerdelik faktureer, boeta, dan betaal jy of jy sit ook met niks!

marius ·

Hoekom word daar gewag dat die rekenings miljoene beloop . As gewone huishoudings agterstallig raak word dit dadelik afgesit .

Daisy ·

Myne is eenkeer vir R300 kortbetaal afgesit (Cullinan tak)en die boete was herinstelling boete was R1 500

Oosieoos ·

Geen betaling geen dienste. Geen dienste geen betaling moet ook vir staats departemente gaan. Dis tyd

Frikkie ·

Dis hulle eie skuld, hoekom so lank vat om op te tree, as ek nie maandeinde my krag betaal nie, word dit summer afgesit. Wat nog van maande of jare ? Dit is julle eie skuld om in die 1 ste plek die rekeninge so te laat ophoop, iemand doen nie sy werk nie, maar wat is nuus deesdae..

Papsak ·

Mooi Brink een witte wat wys hy nie bang hy kan staan agter jou bravo bou voort

Papsak ·

Ja betaal net nie en jou krag word summier gesny maar townships en soweto kan maar mors en agter af gebruik hulle word niks gedoen nie hoe nou dan soek ons almal dit okay !!!!!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.