Jhb-gebou vat weer vlam

(Foto: Twitter via @CoJPublicSafety)

Die brand wat Woensdagoggend by die departement van gesondheid se gebou in Johannesburg uitgebreek het, het vanoggend weer vlamgevat.

Dié gebou in Pixley ka Isaka Semestraat (voorheen Sauerstraat) huisves ook die departement van menslike nedersettings en die Bank van Lisbon.

Nana Radebe, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, het Donderdagoggend aan Maroela Media gesê die brand het om 05:00 weer opgevlam op die 23ste verdieping.

“Dit brand nou tussen die 23ste en 16de verdieping en dan weer op die 10de verdieping. Dieselfde span van gister is ingestuur en daar het ook ʼn aflosspan om 07:00 begin werk,” het Radebe gesê.

Volgens haar het die brand weer opgevlam tussen ʼn klomp bokse met kantooritems soos papiere op die 23ste verdieping.

Die brandende gebou. (Foto: Verskaf)

“Ons het ook ʼn span op die 9de verdieping onder die span op die 10de verdieping om te verseker dat die vuur nie verder ondertoe versprei nie.”

Radebe sê daar is vroegoggend lae waterdruk ervaar en brandbestryders moes die gebou tydelik verlaat, maar die Stad Johannesburg se brandweer het intussen die hulp van City Power en Johannesburg Water ingewin.

Maroela Media het vroeër berig drie brandbestryders het gister hul lewens verloor tydens die bestryding van dié brand. Daar is omstreeks 11:00 ʼn harde slag in die gebou gehoor en ʼn brandbestryder het van die 23ste verdieping na buite geval en op die sementplaveisel te lande gekom reg voor die hoofingang van die gebou.

Michael Sun, burgemeesterskomiteelid vir openbare veiligheid, het gesê die ander twee brandbestryders wat gesterf het, was in die gebou vasgekeer.

Volgens Sun is agt ander brandbestryders in die hospitaal opgeneem – sewe vir verskillende beserings insluitend brandwonde en een vir uitputting.

Pres. Cyril Ramaphosa het ook intussen op Twitter sy medelye aan die gesinne, vriende en kollegas van die oorledenes betuig. “My diepste medelye met die gesinne, vriende en kollegas van die helde wat hul lewens in daardie brand verloor het. Ons wens ook die beseerdes ʼn spoedige herstel toe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Eish ·

Spontane ontbranding?
RSG nuus het vanoggend berig die brand het ontstaan waar bewysstukke vir korrupsie in die gesondheidsdepartement gestoor is.

koos1 ·

My eerste reaksie brandsigting. Brand begin op 2 verskillende plekke.
Krag na die gebou moet afgeny wees. Die hele gebou is sopnat. As ‘n kooltjie val vanaf die 23 ste verdieping, sal dit nie d oorleef tot by die 10de verdieping nie, en dan is dit ook nog nat. Nee wat iewers is daar iets nie lekker nie.
As dit brandstigting was, moet die oortereders van moord aangekla word!!!

Ras ·

Kom ons praat oor die brandweermanne wat oorlede is. By jammer om daarvan te hoor en innige simpatie met hulle naasbestaandes. Die rede vir hulle dood le ek voor die regering en SAESI vierkantig.
Meer as 80% van die brandweermanne wat huidiglik deelneem aan die brand is nie gereed om die tipe van brande te takel nie. Ek weet want ek praat van ondervinding. Hier en daar is daar nog opleidings instansies in SA wat die manne wwrklik goed oplei maar die probleem kom by die praktiese toetse voor hulle kwalifieser as brandweerman.
Jare terug het jy gedruip as jy nie 80% kon haal van dit wat jy moet kan uitrig nie. Nou deesdae word manne links en regs deurgesit al is die ou nog nie reg nie. So 20 jaar terug moes jy nog op die ou manier opleiding kry wat geverg het dat jy ervaring eers moet opdoen saam met jou kwalifikasie voor jy uitgeplaas was na n stasie toe.
Meeste van die manne het nog nooit n groot vuur in hulle lewens baklei nie wat nog te se n groot gebou soos die. Soos dit vit my klink was ook nie die helfte van die protokol gevolg wat in n brandweerman ingedril behoort te word nie.
En wat soek die vrouens daar? As brandweerman moet jy n firemans carry kan doen, gemiddeld van 80kg. Hier en daar is n vrou wat dit kan doen.

theo ·

eki stem saam met jou, ek was n brandweerman in die 80tigs, in durban. geen brandweerman verloor self met hoë gebou brande. almal het geweet as jy ingaan is dit met suurstof bottels.

Rautie ·

Ek stem saam daar word nie meer gekwalifiseerde mense gebruik nie,hulle opleiding is afgewater en onderving is daar min.Ondersoek moet ingestel word na alle brandweer stasis se brandweermanne se opleiding.Tog is daar baie goeie brandweermanne daar buite wat elke dag hul lewens op die spel sit,dankie aan hulle.Sterkte aan die families wat hul mense verloor het.

se maar net ·

klink vir my meer of hierdie brandweer manne nie opgelei was vir die soort van taak nie en daarom het ‘n man sy lewe verniet verloor, kla die opleidingsbeamptes aan vir manslag .. jy moet superfuks wees om hierdie soort van taak te doen, laat my net wonder wat gaan gebeur as hierdie oorgewig land in ‘n oorlog kom, dis n skande hoe ons onself inwurg in ‘n uniform.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.