Jhb-hospitaal: Dringende reëlings nodig vir kankerpasiënte

Groot skade is aangerig tydens ‘n brand by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg (April 2021) (Foto: Twitter)

Die Demokratiese Alliansie verwelkom die beplande terugkeer volgende week van pasiënte na veilige dele van die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg, maar alternatiewe reëlings moet dringend getref word vir kankerpasiënte.

Jack Bloom, die DA se skadu-LUR van gesondheid, het gesê die bestralingsafdeling by onkologie is in die gedeelte wat beskadig is en sal waarskynlik vir ʼn paar maande lank nie beskikbaar wees nie.

Maroela Media het vroeër berig die hospitaal is op 17 April gesluit nadat ʼn brand langer as ʼn dag daar gewoed en groot skade aangerig het. Meer as 800 pasiënte is na 17 ander mediese fasiliteite oor die hele Gauteng heen oorgeplaas. Die brand het die Vrydagaand in ʼn apteek se pakkamer uitgebreek en byna 12 uur lank gewoed voordat brandbestryders dit in bedwang kon bring.

Bloom sê die Steve Biko-hospitaal in Pretoria is die enigste ander hospitaal wat bestralingsbehandeling kan doen, maar dié hospitaal is reeds onder druk.

“Lewens sal in gevaar gestel word as alternatiewe reëlings nie dringend getref word vir honderde kankerpasiënte van die Charlotte Maxeke-hospitaal nie. Die Gautengse departement van gesondheid moet sy kapasiteit uitbrei deur kankerbestraling te organiseer by beskikbare masjiene in die aande en oor naweke. Hulle moet ook privaat hospitale betaal om staatspasiënte teen kanker te behandel.”

Bloom sê alles moet gedoen word om seker te maak die Charlotte Maxeke-hospitaal word so vinnig as moontlik herstel sodat alle spesialis-behandelings so vinnig as moontlik kan hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Blikkies ·

Ek kan seker n uur hier sit en my mond spoel oor die spul. Wat het die ANC in 27 jaar gedoen dat die infrastruktuur van belangrike instellings in die land so inmekaar tuimel? As hulle nie van die staanspoor af nuwe hospitale, skole en universiteite en wat nog wou bou nie of nie die breinkrag het om dit te doen nie, kan hulle nie maar asseblief die minste doen en dit wat daar is behoorlik onderhou nie.

Regverdigheid ·

Janee als in die land val uitmekaar. DANKIE ANC WAT AAN BEWIND IS ???????????????????????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.