Jhb-inwoners sal beboet word vir onwettige storting

Herman Mashaba. Foto: Facebook/Democratic Alliance

Herman Mashaba. Foto: Facebook/Democratic Alliance

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het gesê inwoners sal beboet word vir onwettige storting, aangesien die Stad Johannesburg jaarliks ongeveer R170 miljoen betaal om onwettige stortingsterreine skoon te maak.

Mashaba het gesê inwoners sal met R1 500 beboet word. “Inwoners het die reg om te werk en hul kinders in ʼn skoon en veilige omgewing groot te maak. ʼn Omgewing sonder onwettige stortingsterreine en persele wat nie in stand gehou word nie.”

Hy het gesê kragtens munisipale wette en beleide wat openbare gesondheid en die skoonmaak van vakante persele reguleer, sal diegene wat hul plig versuim met ʼn kennisgewing bedien word om die nodige stappe te doen om die perseel in stand te hou en die gras te sny.

“Indien eienaars versuim om op hierdie kennisgewing te reageer, sal die stad sy eie hulpbronne gebruik om die vereiste werk namens die eienaar te doen en die betrokke bedrag sal van hul munisipale rekeninge verhaal word. Enige individu of eienaar wat skuldig bevind word aan onwettige storting, sal met R1 500 beboet word deur die stad,” het Mashaba bygevoeg.

Hy het gesê die stad word deur ʼn “ernstige uitdaging” in die gesig gestaar wat grassnyery en plantegroeibeheer betref en dié taak sal voortaan deel vorm van die departement van stadsparke en die dieretuin.

“Dit kos die stad jaarliks R170 miljoen om die strate en persele skoon te maak ná onwettige storting. Dit is geld wat eerder aangewend kon word om dienslewering te verbeter.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Stephanie ·

Ek stem100% saam dat ons moet ophou gemors oral aflaai. MAAR… vertel my asseblief waar kan mens rommel aflaai sonder om te voel jy moet 100de kilos ry om n wettige terrein te kry?
Hier in ons omgewing (Centurion) sukkel mens om n terrein te kry sonder dat jy moet “aansluit” en betaal om dit te kan gebruik.
Ek sal dit regtig waardeer as iemand my inligting kan gee.

Peet Schabort ·

Neem tydelike werkers in diens by die onwettige stortpunte, druk ‘n kamera in sy hand en siedaar! Hy word ook persentasiegewyse betaal uit hierdie skuldigbevindings!
Ek kan reeds sien hoedat burgemeesters hulle daartoe wend om ‘n ekstratjie te verdien . . .

jennefer ·

Dis n slim plan, ek sien hier om ons dorp word ook onwettig gestort, veral bouers wat bourommel stort.

AL ·

Ons het meer leiers soos hy nodig! Onder sy leierskap sal Johannesburg net van krag tot krag gaan. Hy het reeds korrupsie aangespreek, dwelmhole geidentifiseer.
Mag God hom bewaar en beskerm om sy taak uit te voer.

Lynette Schultz ·

As hulle in Hillbrow en vervalle buurtes om Joubert Park begin (waar vullis sommer van boonste verdiepings van geboue gestort word) en hulle die geld uit die oortreders kan kry, sal hulle die rykste metro wees….

Regso ·

Beboet hulle ook vir onwettige PLAKKERY op sypaadjies en oop stukke veld.

Blondie ·

Sluit dit die uitgooi van rommel uit taxi vensters in ook.?

Susan ·

Whow darem word dit opgeruim. Nie in Rustenburg nie. Ons dorp lyk septies

Ulanda ·

Ek ry gister deur Johannesburg middestad (onderste deel) en sien hope gemors op sypaadjies en straathoeke le. Dit wat ek sien vul my met afgryse. Gebruikte sanitere ware, ‘ n hele hoop rou beeskopbene met ‘ n swetterjoel vliee wat rondom draai, hope swart asbliksakke en ander gemors. Dit terwyl mense en kinders half oor die gemors moet klim om die sypaadjies te gebruik. Word die stad se gemors dan nie meer skoongemaak nie? Ek dink daar moet hier begin word

Anti-morsjors ·

Nou wonder ek! Was dit nie nog altyd teen die wet om onwettig vullis te stort nie? Hoekom het die verslapping ooit plaasgevind? Pleks was hierdie klein wette voluit afgedwing, dan sou ons nie in hierdie absolute staat van wetteloosheid gelewe het nie. Moes alles regtig eers ten gronde gegaan het? Ia dit nie makliker om maar net iets (wette ingesluit) in stand te hou nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.