Jhb-kleuter al maande in koma weens breinvliesontsteking

Mea Meyer. Foto: Verskaf

Mea Meyer. Foto: Verskaf

ʼn Kleuter van Boksburg aan die Oos-Rand is al meer as drie maande lank in ʼn koma in ʼn Johannesburgse hospitaal nadat sy met ʼn seldsame soort breinvliesontsteking gediagnoseer is.

Mea Meyer (5) is op asemhalingondersteuning in die waakeenheid van die Netcare Clinton-hospitaal en toon slegs geringe reaksie wanneer daar aan haar gevat en met haar gepraat word.

Anelda Badenhorst, Mea se tannie, het aan Maroela Media gesê die nagmerrie het reeds einde Mei begin toe Mea se ma, Zandre, haar na die huisdokter geneem omdat Mea nie lekker gevoel het nie. Mea, toe net vier jaar oud, was koorsig en het gebraak en die dokter het Duitse masels gediagnoseer. “In die week daarna het haar toestand ’n klein bietjie verbeter, maar sy was maar heeltyd siekerig en wou nie volkome herstel nie,” het Badenhorst gesê.

Op 9 Junie is Zandre weer met Mea na die huisdokter wat hulle na ʼn pediater verwys het. Mea is in die Sunward Park-hospitaal opgeneem waar ʼn seldsame bakteriële breinvliesontsteking gediagnoseer is. Terwyl die mediese span steeds besig was met die toetse het Mea ʼn beroerte gekry en in ʼn diep koma verval.

“Sy is oorgeplaas na die Clinton-hospitaal want hulle kinderwaakeenheid is van wêreldgehalte,” het Badenhorst gesê. Oor die volgende paar weke het Mea verskeie terugslae gehad en moes sy ʼn paar keer bygebring word nadat haar hart gaan staan het. Volgens Badenhorst moes daar ʼn stent in haar brein aangebring word en het dokters ook ʼn pasaangeër aan haar hart gekoppel.

“Daar kom tye wanneer sy vir ʼn kort rukkie self asemhaal, maar dan val sy weer terug en moet weer sy ten volle deur die ventilator ondersteun word,” het sy gesê. “Sy beweeg nie juis van haar nek af ondertoe nie, maar sy kan haar ogies oopmaak. Sy is in ʼn baie ligte koma in dié stadium, omdat sy van tyd tot tyd wakker is.”

Sy verduidelik dat Mea eers grootliks op haar eie moet kan asemhaal en op ʼn kleiner ventilator moet wees voordat dokters kan oorweeg om haar na ʼn rehabilitasie-hospitaal oor te plaas. “Die dokters het vir ons gesê sy het breinskade en sy sal van voor af moet leer loop, eet en praat. Maar ons geloof dra ons. Ons glo sy sal ten volle herstel. Dis dalk nie die realiteit nie, maar dit is ons geloof. Sy is ʼn vegtertjie. Sy het al vyf jaar oud geword in die hospitaal en sy gee nie moed op nie. Sy veg,” het Badenhorst gesê.

Intussen sit Zandre dag en nag langs Mea bed. “Sy is elke dag daar. Sy sien nie die son nie. Sy is van vroegoggend daar tot omtrent 23:00 elke aand,” het Badenhorst gesê. Francois, Mea se pa, kom ook elke dag na werk hospitaal toe om Mea te besoek. “Ons weet Mea se kanse hang van haar familie se ondersteuning af. Sy het stimulasie nodig en haar ma wat langs haar sit en met haar praat en vir haar musiek speel, help om haar brein te stimuleer. Verder help die res van ons met Mea se sussie (13) en die takies in en om die huis. Mea en Zandre het ʼn reuse-ondersteuningsnetwerk en mense van regoor die wêreld stuur boodskappe van bemoediging. Ons glo en ons hou nooit op bid nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Kathleen ·

Sterkte aan die familie. My gebede is met julle. Glo en Vertrou. God is Groot

Tascha ·

Ai my hart is so seer wanneer ek sulke dinge lees. Hou aan baklei klein pop jy’s so ‘n mooi ou dogtertjie ek bid dat Jesus vandag by jou bedjie sal stil staan en jou sal aanraak want in Sy woord belowe Hy vir ons genesing deur Sy wonde. Hy’s die groot geneesheer en Mea ek weet jy gaan weer vir jou Mamma glimlag met daai parmantige ou bekkie van jou. Hou moed Mamma jy’s absoluut toegevou in Sy hande en julle is albei die appel van Sy oog!

Theresa ·

Mag die geloof uitkoms gee. Mea ly. Is daar iewers ‘n hoogs gesofistikeerde spesialis wat dalk iemand kan aanbeveel wat met meer opsies en oplossings kan kom? Dalk iemand van oorsee??? Baie sterkte.

Leon ·

Ek weet presies waardeur julle gaan, ons oudste seun was maar twee maande oud toe hy met dieselfde gediagnoseer was. Die dokters het nie gedink dat hy die nag sou deurmaak nie. Duisende gebede van oor die hele land het opgegaan vir hom. Hy het wonderbaarlik oorleef en daagliks het dit net beter en beter gegaan. In die tyd het hy vier “lumber punches” ondergaan asook ‘n skedel/boorgatoperasie. Hy is vandag 13-jaar oud en presteer top in sy klas. Hy het ook geen newe-efekte oorgehou nie. Ons Hemelse Pappa, Jesus het hom volkome gesondgemaak en vandag is hy ‘n getuienis vir baie. Hou vas aan Jesus, moenie moed verloor nie en hou aan met bid. Ons dokters en spesialiste het nog nooit só ‘n wonderwerk gesien nie. Aan God al die eer, Halleluja, Praise to El-Eljon The Most High God!!! Shalom.

Sue ·

Is self 25 jaar terug met my enigste kind by Garden City Medicross, Johannesburg hier deur vir baie, baie maande. Liewe klein mense, ek weet verseker Jesus hou Sy Hand oor jou, verseker is Hy by jou. Bly asb sterk, word gesond al moet jy alles van vooraf leer, ons dien altyd ñ God van oneindige Genade en Wonderwerke. Mamma en Pappa, ek dra jul op aan ons Hemelse Vader, nooit verlaat Hy ons nie. Kyk net na bo

Se maar net ·

Word gesond poppie ! Ons bid vir julle en wil graag binnekort lees dat jy jou mamma en sussie besig hou met streke – niks is onmoontlik by ons Vader nie !

Francois Meyer ·

Mea Lilly Meyer. Jou Pappa bid elke dag en weet dat jy ‘n fighter is. GOD dra jou elke dag en hou mamma sterk.
Ons almal mis jou soo vreeslik baie. Ek en mamma weet nie eers hoe ons dit deur elke dag maak nie. Maar tog staan ons op, gaan hospitaal toe, Pappa bid vir jou voor ek werk toe gaan, mamma sit elke dag daar langs jou, ons glo dat GOD ‘n plan het met ons, dit is hoekom jy nog daar is. My stoute boude, Pappa is sooooooooo life vir jou. My wereld staan still sonder jou glimlag. Liewe Jesus is met jou elke dag, elke dag

Leatitia ·

Jammer dat jy uitgelaat is in die artikel, weet net ons familie sien hoe jy sterk staan as hoof van jou gesin, ons sien die pyn in jou oe en die hartseer op jou gesig, ons hoop en volhard in gebed saam met jou en Zandre en ons glo vas dat jul een van die dae jul Mea huis toe kan vat….

Marike ·

Ons het nog nooit opgehou bid en glo nie. Ons Vader is Groot!!!!!

Aurelia Beukes ·

Ons God is groot moet nooit ophou bid nie. Amen xoxo

MARIETJIE ·

ai ons kan net vir julle bid vir hierdie klein dingetjie

Ludwig ·

Ek is ‘n oupa wat elke dag vir sy (nou al groot) kleinseuns bid. Ek sal vir hierdie outjie en sy ouers ook bid.

Zorana ·

Klein Mea, ons dra jou op aan Jesus, mag hy jou lyfie gesond maak jou verstandjie helder maak en jou weer oplig sodat j eendag kan getuig, mamma en pappa mag God jul versterk en seën vir jul onvoorwaardelike liefde Sterkte ons bid saam julle xxx

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.