Jhb-klinieke sonder elektrisiteit ná kabeldiefstal

medies behandeling dokter

Argieffoto (Foto; DarkoStojanovic, Pixabay)

Die Westbury-kliniek in Johannesburg is sonder elektrisiteit gelaat ná daar met die fasiliteit se hoofkragkabel gepeuter is, het die departement van gesondheid en maatskaplike ontwikkeling, Woensdag gesê.

Die kliniek se bedryfsbestuurder het in ʼn verklaring gesê hy het Dinsdagmiddag ʼn onbekende man van die gebou sien weghardloop ná ʼn harde klapgeluid. Hy het ook rook uit dieselfde rigting as die knal opgemerk.

“Die brandweer is as ʼn voorsorgmaatreël ontbied en die pasiënte is ontruim. Dit was ʼn verligting om te weet dat daar nie ʼn brand was nie en die rook was van drade wat gebrand het toe die kabels gesny is,” het die departement bygevoeg.

As gevolg van skade aan die hoofkragkabel kon die kragopwekker, wat as rugsteun dien, nie aangeskakel word nie.

Dienste by die kliniek is tydelik opgeskort en alle entstof is na ʼn nabygeleë kliniek gestuur om daar gestoor te word.

City Power werk daaraan om die kragtoevoer na die kliniek te herstel.

Protea South-kliniek in Soweto beleef ook kragonderbrekings weens inwoners in die gebied wat steeds onwettig aan die kragopwekker verbind.

Mpho Phalatse, burgemeesterskomiteelid vir gesondheid en maatskaplike ontwikkeling, doen ʼn beroep op die gemeenskap om diegene, wat klinieke en staatsinstansies oor die stad heen teiken, se name bekend te maak. “Dit is kommerwekkend dat ons klinieke steeds deur misdadigers geteiken word. Ons kan nie bekostig om ons fasiliteite te sluit weens vandalisme nie,” het sy gesê. “Ek doen ʼn beroep op alle gemeenskappe om met ons saam te werk om ons fasiliteite te beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

willie ·

Ek sê weer hierdie wandaad teen die mensdom in SA sal nie einde kry, voordat die regering nie ruggraad kry en die handel in niemetaalhoudende materiaal vasvat nie!

Elsa ·

So lank as wat skrootwerwe Koper koop, sal kabel diefstal voorgaan. Die deler so goed soos die steler.

Eddy ·

Ek sê lankal solank daar n mark is(m.a.w. skrootwerwe) sal kabeldiefstal en metaaldiefstal nooit einde kry nie.Dis oor en oor bewys.

Andre ·

Klinieke en hospitale het 25 jaar gelede werkende kragopwekkers gehad.

PIPPIE LANGKOUS ·

Selfde het gebeur in Roseacres Life. (2005 Julie al) Krag het afgegaan en kragopwekker het nie dadelik ingeskop nie. My MA is dood, want sy was aan pype gekoppel wat vir haar asem gehaal het. Swak, swak, swak…Ek was regoor haar in ‘n ander saal waar ek pas ‘n baba gekry het. So dis nie hoorse nie, ek het dit self beleef.

Eddy ·

Dis maar bewys van die tye waarin ons leef.Swak regering,swak bestuur,hoë misdaad,werkloosheid ens.om maar net n paar te noem. Aan die einde van die dag is dit ons,Jan Publiek wat swaar getref word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.