Jhb-ma doodgeskiet: Kaping was dalk huurmoord

Odette Barkhuizen. Foto: Facebook

Odette Barkhuizen. Foto: Facebook

Odette Barkhuizen (43), ʼn ma van Johannesburg wat op 11 Junie tydens ʼn oënskynlike kaping doodgeskiet is, was moontlik die slagoffer van ‘n huurmoord.

Maroela Media het vroeër berig Barkhuizen is omstreeks 13:30 die middag in die oprit van haar kantoor in Oakdene, Glenvista deur kapers doodgeskiet voordat hulle met haar voertuig gevlug het. Haar motor is later verlate in ʼn straat naby die misdaadtoneel gevind.

The Star het Donderdag berig bronne naby aan die ondersoek het beweer Barkhuizen se dood was eintlik ʼn beplande moordkomplot en nie ʼn kaping soos dit voorgekom het nie.

Ao. Jerbes de Bruyn, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die bewerings kan nie bevestig word nie. “Die ondersoek is in ʼn baie sensitiewe stadium en geen inligting sal nou bekendgemaak word nie,” het hy gesê. Hy het bevestig dat niemand nog in hegtenis geneem is nie.

Paul O’Sullivan, ʼn forensiese konsultant en eienaar van Paul O’Sullivan & Associates, het gratis hulp aangebied om die saak te ondersoek en werk ten nouste saam met die polisie om die moord op te los. Hy wou egter ook nie bewerings oor ʼn huurmoord bevestig nie.

“Ek dink dit sal nou onvanpas wees om in die media kommentaar te lewer. Die saak is op ʼn baie gevorderde stadium en om nou kommentaar te lewer mag moontlik die ondersoek beïnvloed. Ek kan wel sê dat ons oortuig is ons weet wie die moordenaar is, maar ek kan nie sê dat iemand binnekort in hegtenis geneem gaan word nie,” het hy gesê. “Daar sal wel ʼn inhegtenisname wees en die saak sal wel opgelos word.”

Joel Fernandez, ʼn familielid van Barkhuizen, het Maroela Media se navrae na die Linmeyer-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) verwys en gesê hulle is nie ingelig oor die vordering van die saak nie.

Don Hooper, hoof van die Linmeyer GPF, kon ook nie die bewerings bevestig nie en het Maroela Media na O’Sullivan verwys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.