Jhb-man al maand lank soek ná raaiselagtige verdwyning

Kit Johnson (Foto: Facebook)

Die Gautengse familie van ʼn 48-jarige vermiste man van Sophiatown in Johannesburg het langer as ʼn maand ná sy raaiselagtige verdwyning steeds geen antwoorde oor waar dié man homself bevind en boonop of hy nog lewe nie.

Kit Johnson, ʼn sake-eienaar, was al vir byna ʼn week vermis voordat sy familielede verlede maand ʼn saak by die polisie aangemeld het.

ʼn Familielid van Johnson, wat verkies om anoniem te bly, het Vrydag aan Maroela Media gesê die man se geliefdes sukkel steeds om sin te maak van sy verdwyning.

Volgens die familielid het Johnson laas op 4 Junie met familie en vriende kontak gehad. “Volgens ons rekords het Kit op 3 Junie laas met iemand op WhatsApp gesels. Hy het die oggend van 4 Junie vinnig werk op sy rekenaar afgehandel, maar daar is daarna geen teken oor waarheen hy verdwyn het nie. ʼn Kollega het eers die Donderdag ná sy verdwyning [op 7 Junie] met die familie kontak gemaak omdat Kit glo nog die hele week nie opgedaag het vir werk nie. Dis eers tóé dat ons lewe in hierdie warboel van onsekerhede gedompel is.”

Talle SMS-boodskappe en oproepe na Johnson se foon het glo onbeantwoord gebly. Volgens die familielid het hulle Johnson se huis op 8 Junie, die Vrydag ná sy verdwyning, besoek, waar hulle glo “geskok” was om te sien dat Johnson se honde buite in die koue sonder kos of water gelaat is.

“Ons het onmiddellik geweet iets is fout. Kit sou nooit sy hondekinders buite laat nie – veral nie sonder kos en water nie. Ons kon glad nie toegang tot die huis verkry nie. Alles was vir ons ongelooflik vreemd en ons het geweet ons moet ʼn vermiste persone- saak oopmaak om die polisie betrokke te kry.”

Luidens die bron het twee van Johnson se vriende sedert sy verdwyning boodskappe van sy selfoon ontvang. In die eerste boodskap is een van sy vriende glo gevra om ʼn R700-oorbetaling te maak en in die tweede boodskap is aan ʼn ander vriend gesê dat Johnson homself in Kaapstad bevind vir ʼn werksaangeleentheid.

Die familie het glo Johnson se selfoon na ʼn huis in Robin Hills in Randburg nagespoor. Volgens die bron het die familie die huis saam met die polisie besoek, maar niemand was tuis nie.

“Toe gebeur die vreemdste ding: Die eienaar van die huis in Robin Hills daag later dieselfde dag met Kit se motor by die polisiestasie op. Hy het aan die polisie gesê Kit is glo buite gevaar en dat niemand van ons ons hoef te bekommer nie. Hy het gesê hy kan geen verdere inligting oor waar hy hom bevind, bekend maak nie. Hy het in ʼn stadium aan ons gesê Kit het verdwyn want hy is moeg vir ‘ons mense’. Toe hoor ons hy het Kit se motor omdat dié hom glo gevra het om sy motor én huis namens hom te verkoop, maar dis nonsens. Kit sou nóóit so iets doen nie – nié die Kit wat ons ken nie. Daar is net te veel dinge wat nie sin maak nie.”

Volgens die bron het die polisie intussen dié man in hegtenis geneem op aanklag van diefstal. Die man is glo al vir byna ʼn maand in aanhouding, maar die polisie kon steeds geen leidrade oor Johnson se verdwyning vind nie.

Intussen was die familie genoop om Johnson se bankrekeninge te sluit omdat daar glo bedrywighede op een van sy rekeninge was. Die bron sê dié bedrywighede vorm ook deel van die polisie se ondersoek.

Konst. Phumi Kraai, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat ʼn verdagte in polisieaanhouding is vir diefstal en ontvoering.

Kraai sê die man sal Dinsdag vir ʼn tweede keer in die hof verskyn om weer om borgtog aansoek te doen. “Die soektog na die vermiste persoon duur steeds voort. Meer inligting is nie in dié stadium bekend nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.