Jhb-man begrawe ná raaiseldood

Edward Blonski. Foto: Facebook

Die begrafnis van Edward Blonski, die 32-jarige argitektegnoloog van Johannesburg wat langer as twee weke vermis was voordat sy liggaam gevind is, vind Woensdag plaas.

Intussen sal ʼn tweede nadoodse ondersoek Dinsdag gedoen word. Jacqueline Wijtenburg, Blonski se niggie, het aan Maroela Media gesê die nadoodse ondersoek wat deur die staat gedoen is, is reeds afgehandel en die familie het die uitslae daarvan ontvang. “Die uitslag van die outopsie is onbeslis weens die ontbinding van die liggaam,” het sy gesê.

“Die familie het ʼn private patoloog aangestel om ʼn tweede nadoodse ondersoek te doen om te kyk of hulle enige antwoorde kan kry.”

Maroela Media het vroeër berig Blonski het op 24 Junie in Parkview, Johannesburg, vermis geraak. Hy moes sy pa die middag êrens ontmoet, maar nadat sy pa hom gebel het en daar geen antwoord was nie, het hy onraad vermoed. ʼn Grootskaalse soektog na Blonski is van stapel gestuur en beeldmateriaal van veiligheidskameras het toe gewys dat Blonski sonder skoene om die dieretuinmeer draf.

Blonski se liggaam is op 11 Julie deur verbygangers in ʼn dam by die dieretuinmeer gevind. Daar was geen sigbare beserings aan sy liggaam nie omdat dit reeds in ʼn gevorderde stadium van ontbinding was.

Volgens Wijtenburg is Blonski se gesin steeds besig om die skok van sy dood te verwerk en om gewoond te raak aan “ʼn nuwe normaal”.

Blonski se suster, Krystyna, het gesê haar broer se dood voel steeds vir die familie onwerklik. “Ons hoop dat ons antwoorde sal kry deur die nadoodse ondersoek, maar ons weet die kans is skraal omdat sy liggaam erg ontbind was weens die water. Ons vra onsself en mekaar of ons ooit hiermee sal kan vrede maak as ons nooit ʼn definitiewe antwoord kry oor hoe Edward se lewe geëindig het nie.”

Wijtenburg het gesê die familie hoop dat die genesingproses kan begin sodra die nadoodse ondersoek en begrafnis afgehandel is.

Kapt. Tintswalo Sibeko, woordvoerder van die polisie, het vroeër gesê ʼn geregtelike doodsondersoek word gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

CS ·

Baie sterkte aan die familie, hoop regtig julle kry die antwoorde vir afsluiting

Poot ·

Ek twyfel of mens ooit berusting sal kan vind. Sou die nadoodse ondersoek dui dat hy vermoor was, sal die volgende vrae wees……wie? waarom? ens.
Sterkte aan die familie met hul verlies.

Kannaland ·

Baie sterkte aan sy familie en ek hoop julle kry antwoorde en afsluiting.

BOESMAN ·

Sy na-doodse ondersoek is seker een van die wat deur ‘n skoonmaker / drywer gedoen is…………geen wonder daar is nie ‘n besliste uitslag nie !!!!!!!!

Theresa ·

Hoop die professionele, privaat pataloog bring antwoorde vir die familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.