JHB-metropolisie fnuik rooftog

Argieffoto

Argieffoto

Twee Johannesburgse metropolisiebeamptes het Dinsdagoggend ʼn gewapende rooftog by ʼn skryfbehoeftewinkel verhoed.

“Een van die beamptes het onwetend omstreeks 08:15 by die skryfbehoeftewinkel in Planetweg in Amalgam ingestap,” het hoofsuperintendent Wayne Minnaar, woordvoerder van die metropolisie, gesê. “Hy het gesien mense lê op die vloer en dadelik sy vuurwapen te voorskyn gebring en agteruit getree. Hy het gestruikel en geval.”

Een van die verdagtes het die beampte se vuurwapen gegryp en ʼn skietery het uitgebreek tussen die verdagtes en die beampte in die patrolliemotor. Vyf van die verdagtes kon ontsnap.

“Danksy ʼn helikopter van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, is twee van die mans in ʼn oop stuk veld naby aan Crown Mines-golfbaan in hegtenis geneem,” het Minnaar bygevoeg. “Die polisie het beslag gelê op twee vuurwapens, insluitend die metropolisiebeampte se wapen.”

Die verdagtes word aangekla van gewapende roof, diefstal, poging tot moord en die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie. “Hulle sal binnekort in die hof verskyn.”

Geen geld is gesteel nie en niemand is beseer nie, buiten ʼn beampte wat ʼn besering opgedoen het toe hy tydens die skietery geduik het om te skuil.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.