Jhb-sakeman doodgeskiet: ‘My pa was spesiaal’

André Botha met sy vrou, Sarah en twee kinders, Luke en Jennifer. Foto: Facebook

André Botha met sy vrou, Sarah en twee kinders, Luke en Jennifer. Foto: Facebook

André Botha (59), ʼn bekende sakeman van Johannesburg, is Saterdag voor sy huis in Northcliff, Johannesburg doodgeskiet.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê Botha, sy vrou, Sarah en sy seun, Luke, is buite die huis deur drie verdagtes oorval. Sarah het in die huis in gehardloop om die paniekknoppie te druk. ʼn Struweling het tussen Botha en die aanvallers ontstaan en hy is in die bolyf geskiet. Die verdagtes het Luke se selfoon en beursie gebuit en weggejaag in ʼn Mercedes Benz.

Botha is na die hospitaal gehaas waar hy aan sy beserings beswyk het. ʼn Saak van moord en gewapende roof is aanhangig gemaak, het Dlamini gesê.

Botha was die uitvoerende direkteur van Force Fuel, ʼn maatskappy wat brandstof en brandstofprodukte in grootmaat vervaardig en vervoer. Luke het op die maatskappy se Facebook-blad gesê sy pa was ʼn geliefde man wat met oorgawe aan ander gegee het. “My pa was iets spesiaal, iets wat nie vervang kan word nie. Hy los ʼn nalatenskap agter wat vir ontelbare leeftye sal voortleef.

“Ek is geseënd om sy enigste seun te wees en in beheer te wees daarvan om sy lewenswerk vorentoe te neem. Ek sal my pa se lewe vier deur voort te gaan met sy nalatenskap en ‘n lewe leef om my pa trots te maak,” het hy gesê.

Botha se begrafnis sal na verwagting Vrydag of Saterdag plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Drieks ·

So wag ons almal dat die ryk diewe ons goed kom vat waarvoor ons gewerk het, en dan word jy sommer net geskiet. En dit is niemand se skuld nie, ons moet nie kla nie, dit gebeur mos oral in die wéreld en moet ons nie maak of ons dit nie kan gewoont raak nie.

Blondie ·

Die woord ‘veilig’ moet uit ons woordeboek verwyder word. So maklik soos dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.