Jhb se IT-stelsel glo weens ‘onbetaalde rekening’ buite werking

Die ANC in Gauteng sê hy het met skok verneem dat die Johannesburgse metroraad se inligting-kommunikasietegnologiestelsels buite werking is omdat die diensverskaffer nie betaal is nie.

“Ons verstaan die stad skuld die diensverskaffer miljoene rande,” het Jolidee Matongo, die ANC se Gautengse woordvoerder, gesê.

Die ANC in die provinsie sê die uittredende burgemeester, Herman Mashaba, moet aan inwoners verduidelik waarom – as die stad geld in die bank het soos wat die burgemeester aanvoer – die verskaffer nie betaal is nie.

Volgens die ANC werk die stad se e-posse gevolglik nie meer nie. Beamptes kan nie inwoners se rekeninge elektronies stuur nie en niks bereik die inkomste-afdeling nie, het Matongo gesê.

“Dit gaan lei tot inkomsteverliese van miljarde rande en gaan die stad op sy knieë dwing.”

Die ANC sê die feit dat die stad tjoepstil oor die situasie is, bewys dat Mashaba nie ʼn groot stad soos Johannesburg kan regeer nie. “Hoe vinniger hy padgee, hoe beter gaan dit vir inwoners wees,” het Matongo gesê.

Die ANC sê Mashaba het genoeg skade aan die stad aangerig. “Dié krisis is die hoogtepunt van die soort administrasie onder Mashaba se leiding. Die kenmerk van sy administrasie is wanbestuur, swak administrasie en korrupsie.

“Ons doen ʼn beroep op die provinsiale regering om dringend, in belang van Johannesburg se mense, in te gryp,” het Matongo gesê.

Oproepe na die woordvoerders van die Johannesburgse metroraad was Woensdagoggend onbeantwoord. Die stad se webwerf het ook nie gewerk nie.

Sowat twee weke gelede is die stad se webwerf, e-dienste, rekeningstelsel en ander kliëntediensstelsels vir tyd en wyl afgeskakel nadat kuberkrakers die netwerk aangeval het.  ʼn Groep genaamd Shadow Kill Hackers was glo verantwoordelik vir die aanval. Hulle het gedreig om die inligting wat hulle bekom het te versprei tensy ʼn losprys van 4 bitcoin (sowat R500 000) betaal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

KrokodilBotha ·

DA se een suid afrika vir almal is ook maar net n rivier vol riool.

???? leser ·

wat van die personeel wat verantwoordelik is vir die beheer van geldsake, mashaba is daar maar kan ook nie elke personeellid se werk doen nie

Dis Nou ·

Ag, erken tog net julle kan nie en klaar. Gee die land vir ‘n party wat kan en wil regeer

Kas ·

Ons rekening word lankal nie meer deur die munusipaliteit gedoen nie maar deur ‘n firma in Durban.Oktober se rekening kry ons eers van die 20ste November af en dan is jy ‘n maand agter.As jy navraag doen word daar vir jou gese om ‘n prepaid meter te laat instaleer.Hulle doen dit gratis.Wat word die firma betaal om die rekening te doen,hoekom?want die munisipaliteit kan dit nie doen nie maar kyk wat skuld hulle escom

Elizabeth Venter ·

Kry nou net n gedagte. Was dit werklik n kuberkraak aanval of was dit dalk net n verskoning om egte waarheid van wanbetaling te verdoesel

Gam ·

Regering het nie die vermoë om enige iets te bestuur nie. Die probleem is dat hulle nie besef dat hulle nie die vermoë het nie. Is daar ‘n woord vir dit?

Jollyker ·

Kom kyk hoe die ANC-koalisie hier in Port Elizabeth probeer regeer! Die burgermeester kan selfs sy voorvaders vra om reen te stuur as dit droog is! Vergeet van korrupsie en kaderontplooiing, sabotasie is die nuwe wapen teen enige ander party wat dit durf waag om die meerderheid te kry in die raad. Vra maar vir die DA-koalisie.

Gert van Wierdapark ·

Ek praat nie die huidige probleem goed nie, maar toe die a en see in JHB in beheer was, was dit nag!! Nou Probert hul speler, vlagman en skeids-regter wees = aandagsoekend en aandag-aflei-baar! Siestog!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.