Jhb se ligte bly aan ná vakbond staking afstel

Argieffoto (Pixabay)

Argieffoto (Pixabay)

Vrese dat Johannesburg die komende week dalk sonder elektrisiteit sou wees, is Sondag besweer toe die munisipale vakbond, SAMWU, aangedui het dat hy nie Maandag met sy beplande staking voortgaan nie.

City Power het Sondag in ʼn verklaring gesê nadat SAMWU kennis gegee het van sy beplande staking, het hul regspan nou aangedui dat die vakbond nie meer met die staking voortgaan nie. “City Power wil die inwoners van Johannesburg verseker van ons toewyding om stabiele en ononderbroke kragvoorsiening te lewer, ongeag of arbeidsoptrede voortgaan of nie,” het die instansie gesê.

Die kragverskaffer het verder gesê enige dreigemente teen die netwerk of opsetlike en onwettige gepeuter met sy eiendom, is ʼn misdaad en sal strafregtelike stappe tot gevolg hê. “City Power sien hierdie dreigement deur die vakbond as krimineel en nie in belang van al die vakbondlede nie.”

City Power beweer SAMWU se beplande staking spruit uit “ongegronde en lasterlike bewerings” teen Sicelo Xulu, City Power se besturende direkteur. “Frank Chikane, City Power raadsvoorsitter, het ʼn beroep op SAMWU gedoen om konkrete bewyse van hul bewerings te lewer, maar dit was tevergeefs. Die City Power raad bevestig dat hy alles in sy vermoë doen om hierdie saak so spoedig en vriendskaplik as moontlik op te los.”

Die kragverskaffer het gesê hy het gebeurlikheidsplanne in plek ingeval die staking sou voortgaan om seker te maak die ligte bly aan.

© RDM News Wire

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.