‘Jhb skut taxi’s om wet en orde te handhaaf’

Herman Mashaba, burgemeester van die Johannesburg-metro, by een van die taxi’s wat geskut is. Foto: ANA

Herman Mashaba, burgemeester van die Johannesburg-metro, sê die stad teiken nie net minibustaxi’s met sy Buya Mthetho-veldtog nie, maar alle voertuie om wet en orde toe te pas.

Dit volg nadat duisende pendelaars Maandag gestrand gelaat is toe taxibestuurders in die stad uit protes teen die skut van hul voertuie begin staak het.

Mashaba het Dinsdag die media genooi om die onpadwaardige voertuie wat sedert die begin van die jaar deur die Johannesburg-metropolisie (JMPD) geskut is, by sy perseel in Wemmer te gaan besigtig.

Hy het tydens die geleentheid gesê dit is belangrik dat alle padgebruikers die padreëls gehoorsaam.

“Buya Mthetho is nie ʼn aanslag wat spesifiek op taxibestuurders gerig is nie, maar alle onpadwaardige voertuie op die paaie,” het Mashaba gesê.

Meer as 500 onpadwaardige, onwettige en ongelisensieerde minibustaxi’s is sedert die begin van die jaar reg oor die stad onder die vaandel van Buya Mthetho geskut. Sowat 60 onwettige klein vragmotors is ook geskut.

Mashaba het een van die taxi’s uitgewys wat ʼn Kaapstad-nommerplaat het, maar ʼn lisensieskyf van Malawi het.

Volgens die JMPD is van die taxi’s wat geskut is, in ʼn baie swak toestand en het van die voertuie lisensieskywe wat reeds in 2012 verval het. Ander het koerantuitknipsels as foplisensieskywe gebruik.

Taxibase van 11 geaffilieerde taxiverenigings het Maandag aan die staking deelgeneem, waarna hulle die metro ʼn week tyd gegee het om op hul griewe te reageer. Die verenigings dreig om ʼn nasionale staking van stapel te stuur as owerhede nie positief op hul eise reageer nie.

Rdl. Michael Sun, die burgemeesterskomiteelid vir openbare veiligheid, het die staking egter veroordeel en gesê die JMPD sal nie deur taxiverenigings “geboelie” word om wetteloosheid toe te laat nie.

“Ons sal ons nie aan wetteloosheid oorgee nie. Onwettige, onvoldoende en onverantwoordelike diensverskaffers kan nie verwag dat ons wegkyk terwyl hulle met die lewe van pendelaars en ander motoriste speel nie. Ons sal beslis nie geboelie word deur enkelinge wat wettelose optrede wil bevorder nie,” het Sun gesê.

Hy het gesê die JMPD sal voortgaan met sy wetstoepassingspogings en om alle voertuie te skut wat nie aan wetgewing voldoen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Molly ·

Hoera, darem iemand wat hulle nie laat intimideer deur die taxi drywers nie!!! Die arme passasiers wat in die wrakke MOET ry!!

Michael ·

Reg so dit is ook die taxi drywers wat onpadwaardig is. Hulle is die grootste misdadigers op die pad.

marous ·

As passasiers net sou weier om in onpadwaardige voertuie te klim of roekelose drywers se ore warm maak is hulle doppie geklink. Ons sal egter almal blou mussies dra voor dit gebeur ….

Etienne ·

Dankie Mnr Mashaba, nou nog net die taxi’s kry om pad reels te volg.

Casper Labuschagne ·

et toe ek dink daar is nie vandag goeie nuus nie, toe lees ek hierdie berig. ‘n Goeie begin, maar daar is nog ‘n lang pad om te stap voordat hierdie pestilensie van ons paaie verwyder is. N

Moses ·

Wel gedaan Mnr Mashaba
Miskien moet daardie stakende verenigings se permitte nie weer toegestaan word nie, hulle is tog immers veronderstel om ‘n diens aan die gemeenskap te gee. Kry mense wat wil werk en die wette gehoorsaam is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.