Jhb-storm: Betogers wil rampverligting ontwrig

Herman Mashaba, die burgemeester van Johannesburg, het Sondag gebiede besoek wat deur die erge storm geraak is wat Saterdag in dele van die stad gewoed het. Foto: Herman Mashaba/Twitter

Die Stad Johannesburg het Donderdag gesê hy is besorg oor onlangse berigte dat ʼn paar ontevrede inwoners van Protea Glen in Soweto rampverligtingspogings wil ontwrig. Die pogings het ten doel het om mense te help nadat ʼn storm die gebied verlede naweek getref het.

Dit kom ná berigte dat afgevaardigdes van die departement van maatskaplike ontwikkeling wat rampverligtingsitems, insluitend kospakkies, aan die gesinne wat deur die storm geraak is wou oorhandig, toegang tot Protea Glen geweier is.

Daar is ook berig dat assessors van die National Home Builders Registration Council (NHBRC) gedreig is terwyl hulle probeer het om die geaffekteerde huise te assesseer.

Die afgelope naweek se storm het bome ontwortel, paaie versper en talle voertuie en huise beskadig. Sommige huise se dakke het afgewaai. Die ergste skade is in Protea Glen aangerig. In Lenasia, suid van Johannesburg, is twee mense dood toe ʼn boom op die voertuig waarin hulle was geval het.

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het in ʼn verklaring gesê die stad is nog besig met deeglike assesserings om te bepaal presies hoeveel huishoudings deur die storm geraak is.

Mashaba het gesê die stad werk ten nouste saam met nie-regeringsorganisasies en ander rolspelers, insluitend private ondernemings, wat nie gehuiwer het nie om op kort kennisgewing in te spring en liefdadigheidshulp aan daklose inwoners te verskaf.

Hy het gesê daar word op kort-, medium- en langtermyn ingrypings gefokus, insluitend die voorsiening van humanitêre verligting, die verskaffing van skuilings, kos, water, sanitasie en behuising, asook gesondheidsdienste.

“Die Stad se hoofprioriteit is om seker te maak mense wat deur die storm geraak is ontvang die hulp en ondersteuning wat hulle nodig het. Weerstand deur ʼn paar ontevrede mense is onaanvaarbaar. Die departement is gewillig en gereed om hulp te verleen, maar weens die onlangse betogings is die grootste uitdaging nou om die korrekte leierskap te identifiseer om die onmiddellike besware van die betogers te verstaan.”

Mashaba sal na verwagting môre ʼn voorlopige verslag van die stad se groeprisiko-adviesdienste ontvang met ʼn volle risiko-assessering van die skade wat deur die storm aangerig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Muffin ·

Dit wil my voorkom die betogers wil he die Munisipaliteit moet weermag helikopters huur om nuwe huise daar te gaan neersit. Waardeer niks. Dit was n natuurlike ramp. Ook betwuiveling aan die bou kontrakteurs.

G ·

Nou laat hul dan maar honger ly as hulle dan so graag wil. Gaan gee die pakkies vir mense wat dit sal waardeer.

R.H.G ·

Ek glo regtig nie dis die slagoffers wat ondankbaar is nie. Dis ander wat wil keer. Genade, as jou dak weg is of jou mure gebreek het, is jy vir seker dankbaar vir enige hulp. Ons kom dikwels so te vinnig tot gevolgtrekkings en veroordeel voordat ons nog al die feite het. Hoe meer mens weet, hoe meer begrip het mens.

Joe ·

RHG , en jou punt is ….. Maak nie saak of dit die slagoffers is of nie. Jy is die een wat wat nie begrip het nie.

Hanna ·

Wat makeer die mense? Ambulanse word aangeval en beroof, brandweerwa word verhoed om huisbrand te blus, noodhulpwerkers met kospakkies en ander behoeftes word verjaag… Dalk moet die munisipaliteite begin fokus op gemeenskappe wat werklik hulp wil he. Sommiges WIL nie gehelp wees nie!

Le ·

Stel ondersoek in òor tenderbedrog, omkopery en kickbacks. Ek sal die eerste boek kòop

Johanna Botha ·

Swak en afskeep bouwerk en nou word gewonde burgers gevra om weer te help ….het al gaan help papiere opgetel naby Diepstoot en was in die oe gekyk terwyl rommel verder gestooi was ….geen wardeering en sal dit ook nooit weer doen nie !

HPV ·

Betogings is die bemagtiging van mense deur die regering om nie-betogende mense te verontrief, hul eiendom te beskadig, winkels te stroop en infrastruktuur te vernietig.

Koos1 ·

Ek dink die mense is dik daarvoor dat politieke partye sulke rampe wil gebruik vir politieke punte!.

RAINBOW ·

Hoeveel RAMPSLAGOFFERS in die KNYSNA brande het hulp van die REGERING ontvang? Private organisasies moes maar help en mense uit hulle sakke uit het oral hulp probeer verleen. Hoeveel boere in die droogtegeteisterde Weskaap ontvang REGERINGShulp?
Dit is ook ‘n natuurramp. Vreemde land hierdie van ons waar sekere mense rampverligting by die STAAT mag eis en ander nie. Hoeveel slagoffers van groot reen en modderstortings ontvang hulp van die staat? Ek onthou van die water tydens ‘n baie groot storm wat verlede jaar ‘n klomp voertuie in Jhb omgewing weggespoel het, dakke afgewaai en huise oorspoel het . hoeveel van hulle het STAATSHULP ontvang? Of is dit nou weer ‘n politieke spel hierdie?

R.H.G ·

Joe, my punt is dat dit nie die lydendende party is wat ondankbaar is nie en dat ander opstokers hulp aan hierdie mense belemmer. Mens kan nie net aanvaar dat hulle wat skade gely het helpende hande wegwys nie. Ek weet doodeenvoudig nie of die regering hulp gee of nie, maar weet dat ons mense met groot harte het wat ruim gee, dis gewis. Ek is dankbaar om in ‘n stewige huis te woon en dat ons versekering kan bekostig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.