Jhb-storm: Twee dood toe boom op motor val

Foto: ANA.

Ten minste twee mense is as gevolg van die verwoestende storm Saterdaglaatmiddag in Gauteng dood.

So het Jacob Mamabolo, LUR vir infrastruktuurontwikkeling, Sondag gesê.

“Ons het berigte ontvang dat twee mense in Lenasia dood is nadat ʼn boom op die motor waarin hulle gereis het, geval het. Ons innige meegevoel met die families,” het Mamabolo tydens ʼn dringende konferensie oor die impak van Saterdag se verwoestende haelstorm gesê.

Talle voorvalle is in die westelike en suidelike dele van Johannesburg aangemeld as gevolg van die storm.

Maroela Media het vroeër berig dele van die dak by die Trade Route-winkelsentrum in Lenasia het ook inmekaargesak.

Die storm het bome ontwortel, huise beskadig, dakke afgewaai en verskeie motors beskadig, terwyl sommige paaie ook gesluit moes word.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê ses mense is ook in ʼn taxi-ongeluk beseer ten tyde van die storm.

Dié voorval het op die N12 naby Impalaweg plaasgevind. “Verskeie van die passasiers het diep snywonde en beenbreuke opgedoen,” het Vermaak gesê.

Volgens Mamabolo doen die Gauteng-rampbestuurspan tans ʼn assessering van die skade. Intussen verskaf die regering reeds tente, kospakkies en komberse vir diegene wat die ergste deur die storm geraak is, aldus Mamabolo.

ʼn Finansiële assessering van die skade word ook gedoen.

“Sowat 51 laeskostebehuisingseenhede en 12 plakkershutte in Mohlakeng is beskadig. Wat ons bekommer is dat die eienaars van die huise weg is met vakansie en nog nie weet hul huise is verwoes nie.”

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, wat vroeër vandag die gebiede besoek het wat deur die storm geaffekteer is, het op Twitter gesê hy probeer om dié gebiede tot rampgebiede te laat verklaar sodat noodleniging vanaf die regering verkry kan word om die gemeenskappe by te staan.

Mamabolo het gesê spanne sal Sondagmiddag met die relevante departemente vergader.

Volgens Mamabolo sal hy eers daarna vir die Gautengse premier, David Makhura, oor die skade inlig, en Makhura kan dan dele van die provinsie as rampgebiede verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Dafer ·

Nee Buitestander, dis net reenweer. Magtag, kan jy nie lees nie?

LMF ·

Buitestander ek stem saam jou onse God praat met ons net die wolke na die storm as elke mens wat dit gesien het en nie glo daar is n groter HAND daar buite en by ons nie sien ek maar swarigheid vir hom hy praat met ons ja Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.