JHB-sussies kry Van Gogh-skildery terug

Die skildery, "Kop van 'n man", vermoedelik deur Vincent van Gogh Foto: smh.com.au

Die skildery, “Kop van ‘n man”, vermoedelik deur Vincent van Gogh Foto: smh.com.au

ʼn Skildery van R49 miljoen wat glo deur Vincent van Gogh geskilder is, sal terugbesorg word aan die regmatige eienaars, twee susters wat in Johannesburg woon, het die Sunday Times berig.

Die twee susters, in hul 70’s, het ʼn lang hofstryd gewen om dié skildery uit 1886 terug te kry, het die koerant berig. Die stuk, “Kop van ʼn Man”, hang al sedert 1940 in die National Gallery of Victoria in Melbourne, Australië.

“Ons is die wettige erfgename en dit is net reg dat ons dit terugkry wat regmatig aan ons behoort,” het die susters, wat vir veiligheidsredes anoniem wil bly, aan die koerant gesê.

Volgens die koerant het Richard Semmel, ʼn nyweraar van Duits-Joodse afkoms, sy totale kunsversameling aan die susters se ouma bemaak, maar die Nazi’s het hom gedwing om sy versameling te verkoop. Semmel het dié skildery toe saam met ander werke in 1933 op ʼn veiling verkoop. Semmel het gevlug nadat Adolf Hitler in 1933 Duitsland se kanselier geword het.

Die galery het die stuk aangeskaf uit die uitstalling van Franse en Britse kontemporêre kuns.

Die susters het Olaf Ossmann, ʼn prokureur wat in Zürich gebaseer is, aangestel om die saak te hanteer en die skildery weer aan hulle terug te besorg.

Kenners van die Van Gogh-museum het in 2007 egter verklaar dat die ongewone portret nie deur die Nederlandse meester geskilder is nie, maar waarskynlik eerder deur ʼn onbekende tydgenoot. Ossmann se navorsers is egter nie oortuig deur dié bevinding nie. Die Weekend Australian het ook berig die galery betwyfel moontlik ook die bevinding en die skildery sal verder ondersoek word deur van tegnieke gebruik te maak wat nie in 2007 beskikbaar was nie.

Ossmann sal na Melbourne reis om die toekoms van die skildery met die galery se prokureur, Peter Stewart, te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.